GEORGE NUUS - Diegene wat in die woonstelblok in Morrisstraat agter George-polisie tuisgaan is deeglik bewus van hul informele bure, 'n groep haweloses, wat skuiling in die omgewing soek.
Huisraad en vullis lê gereeld in hope agter die polisiestasie ten aanskoue van die woonstelbewoners.
'n Woonstelbewoner wat graag anoniem wil bly, het George Herald genader met die probleem. Die vullis is intussen deur munisipale straatskoonmakers verwyder, maar ongelukkig word huisraad nie verwyder nie, het die munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, by navraag gesê.
Volgens die inwoner is die hope huisraad en vullis 'n veiligheids- en gesondheidsrisiko vir diegene wat in die omgewing woon.
"Ons kla dikwels oor die probleem by die munisipale afdelings. Dit is nie 'n nuwe probleem nie en die mense is raadop. Die sypaadjies is ook oorgroei met onkruid, wat inwoners verder frustreer."
Huisraad van haweloses lê gestrooi agter die George-polisiekantore.
Sauer het in haar terugvoer gesê die betrokke area word daagliks deur wetstoepassingsbeamptes besoek en daar word toegesien dat die haweloses die gebied verlaat.
"Dit bied egter nie 'n blywende oplossing nie, aangesien hulle terugkeer nadat die beamptes die gebied verlaat het," het sy gesê.
"'n Meer volhoubare oplossing is nodig waar onder meer kerke, nie-regerings- organisasies, maatskaplike dienste ensovoorts hande met die munisipaliteit moet vat om die kern van die uitdaging, aan te spreek."
Huisraad van haweloses lê gestrooi agter die George-polisiekantore.
Onkruid
Wat oorgroeide sypaadjies betref is dit elke grondeienaar of instansie se verantwoordelikheid om sypaadjies ordentlik te hou. "As hul nie in staat is of enige poging in die verband aanwend nie sal ons dit op 'n siklusbasis elke drie tot vier maande met onkruiddoder behandel om die ontkieming van nog onkruid te inhibeer.
"Die onkruid word dan toegelaat om natuurlik te ontbind," het Sauer gesê.
"Ons is tans besig met die spuit van die George munisipale area en die area by die polisiekantoor sal behandel word wanneer die span daardie area bereik. Die dorp word sistematies deurgewerk. Ons het tans 'n geweldige agterstand wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Gedurende 'n sekere stadium tydens die inperking kon geen spuitwerk plaasvind nie.
"Baie van die areas wat oorweldig word deur spoedige groei van onkruid in die lente tot somer tydperk sal behandel word."
Verwys klagtes oor haweloses na 044 801 6381 (kantoorure) of 044 801 6300 (na-ure). Vir klagtes oor vullisopeenhoping of onwettige vullisstorting kontak die reinigingsafdeling by 044 802 2900.
Die gemors hou 'n veiligheidsrisiko in, volgens 'n besorgde inwoner.
Die sypaadjies is oorgroei met onkruid, wat inwoners verder frustreer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'