Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Bejaardes het nog 'n baie groot rol om te vervul in die samelewing. Aftree is 'n volgende fase en na aftrede, kom aantree daarvoor. Dit is die boodskap van Hennie Coetzee, die nuwe bestuurder van Huis JJ Watson.
Coetzee het die leisels van die gewilde bejaardesorgsentrum verlede week by Okkie Stander oorgeneem wat einde Februarie afgetree het.
Op Maandag 7 Maart, na slegs net 'n paar dae in die tuig, het Coetzee gesels oor hoe hy bejaardesorg sien en oor die pad vorentoe. Die 55-jarige Coetzee is al die afgelope 18 jaar betrokke by bejaardesorg en dit is iets wat hom na aan die hart lê.
Dit is 'n lang pad wat hy geloop van Middelburg in die Oos-Kaap waar hy grootgeword het tot betrokkenheid by bejaardesorg. Sy loopbaan het by korrektiewe dienste begin waar hy onder meer hoof van 'n gevangenis en ook 'n areabestuurder was.
In 2004 het hy betrokke geraak by bejaardesorg in Bethulie. Daarna was hy bestuurder van Huis Boland in Bellville. Hy het later ook betrokke geraak by Badisa en in 2019 bestuurder van Overberg-tehuis in Riviersonderend geword. Oor die jare het hy wye bestuursondervinding opgedoen wat handig te pas kom in sy werk.
Volgens Coetzee het hy die pos by JJ Watson aanvaar omdat hy lus was vir 'n nuwe uitdaging en dit ook 'n gebedsaak was. Hy glo die Here het hom hierheen laat kom. "Ek wil Sy lig ook hier laat skyn."
Hy beskou ouderdom as 'n getal en 'n nommer. "Dit is wat hy/sy as mens daarvan maak. Hoe meer besig 'n inwoner van so 'n tehuis is, hoe beter vir hom/haarself."
Hy glo bejaardes moet bemagtig word. Hulle beskik oor soveel kennis en vaardighede. Dit behoort gedeel te word. Byvoorbeeld as tannie Sannie oor 'n besonderse melktertresep beskik moet sy dit kan deel, want as sy nie meer daar nie, is dit verlore.
"Elke bejaarde het 'n storie om te vertel. "Daar is soveel kennis en vaardighede onder een dak."
Hy beskou dit bloot as 'n ander era vir bejaardes in hul lewens en hulle het 'n enorme bydrae om te lewer.
Coetzee beskryf homself as mens-georiënteerd en sy benadering is om elke bejaarde te hanteer soos sy eie ouers.
Daar moet ook onthou word dat bejaardesorg oor die jare verander het. Bejaardes het in vandag se tye byvoorbeeld toegang tot rekenaars, selfone en hulle is ook op Facebook.
Daar is baie uitdagings wat wag in die toekoms en aangespreek moet word. Covid-19 was 'n groot terugslag en fondse is nodig. "My standaard is dat dit so moet wees dat ek self eendag hier sal wil kom bly."
Hennie Coetzee, die nuwe bestuurder van Huis JJ Watson. Foto: Eugene Gunning
VIDEO - Nuwe bestuurder praat:
Lees verwante artikel, Okkie Stander groet huis JJ Watson
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'