GEORGE NUUS - Die Eden Lions het in samewerking met die Pedal Power Association, verlede week 'n besoek aan Pacaltsdorp gebring.
Tillie Nel van die Eden Lions sê hulle wou betrokke raak by die belangrike projek omdat baie mense in George steeds fietsry om te kom waar hulle wil wees.
Nel sê die Stay Wider From The Rider is 'n wonderlike projek en het ook die ondersteuning van die Padongelukkefonds. Sy sê hulle het reeds verlede jaar in Thembalethu begin, nou Pacaltsdorp en Blanco is volgende. Sy en van die klublede het toestemming gekry om hul baniere op te sit en het sommer mense letterlik van die straat af genader en veiligheidstoerusting gegee.
"Ja, die toerusting is gratis. Ons het ongelukkig net soveel valhelms, maar ons probeer vir elke fietsryer 'n beffie (bib) en liggies gee, en motoriste kry 'n plakker."
Die glimbaadjies het 'n kruis op die rug en 'n strepie op die bors om motoriste en voetgangers te waarsku dat 'n fietsryer op pad is of voor hulle ry. "Dit is 'n absolute voelgoed-projek," sê Nel. Hulle het egter vooraf huiswerk gedoen om te skat hoeveel fietsryers op 'n daaglikse basis die pad gebruik.
Sy sê dis hoekom hulle tussen 16:00 en 18:00 daar was om mense op pad huis toe te nader.
Volgens Nel was baie mense baie bly oor die bewusmaking.
'Ons bring jou die nuutse George, Tuinroete nuus'