GEORGE NUUS - Stormsterk winde het Maandag oor groot dele van die Tuinroete amok gesaai en munisipale departemente op hul tone gehou.
In George moes nooddienste in Thembalethu met twee gevalle help waar bome op informele strukture in Thabata- en Tawanistraat geval het. Niemand is tydens die voorvalle beseer nie.
Verskeie kragonderbrekings is in Hoekwil, Wildernishoogte, Saasveld, Geelhoutboom, Heroldsbaai, Oubaai, Pacaltsdorp en Hansmoeskraal ondervind.
Elektrisiëns was teen Maandag vroegaand steeds besig met herstelwerk. Op die koop toe moes dele van Thembalethu (sone 6 en 7) se krag onderbreek word sodat noodherstelwerk kon plaasvind weens skade as gevolg van onwettige kragkoppelings.
Brande
'n Veldbrand in die omgewing van Hoekwil het die herstel van dele van die dorp se kragtoevoer beïnvloed. 'n Tweede veldbrand in Hoekwil is later Dinsdagmiddag aangemeld. Ander veldbrande het opgevlam in Victoriabaai, Thembalethu, Yorkstraat-begraafplaas en die oorlaaistasie op die R102 (ou lughawepad).
Die brand by die oorlaaistasie het Sondagaand ontstaan en ofskoon dit geblus is, het dit weer begin smeul onder die bergwindtoestande. 'n Stootskraper is gebruik om die brandende materiaal te smoor, maar die materiaal het vir dae lank steeds gesmeul.
George-brandweer is bygestaan deur die Garden Route-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'