Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Hoekwil, Rohan Herselman, was op 'n naweekuitstappie met sy motorfiets saam met vriende toe hy op Sondag 13 November 'n ontstellende oproep van sy vrou, Debbie, kry om hom in te lig dat twee honde onder sy skape verwoesting saai.
Hy het sy uitstappie kortgeknip en hom huis toe gehaas. Tuis aangekom het hy gevind dat die honde ses skape doodgebyt het. Nog vier moes uitgesit word en 50 is beseer, het hy gesê. "My hart is seer om my diere so te sien."
Die honde, afkomstig van Die Plasie, 'n nabygeleë informele nedersetting, het op een of ander manier by die kamp waar die skape gehou word, ingekom.
Die honde het behoort aan 'n werknemer wat volgens Herselman erken het dat hy nie sy honde kan beheer nie. Herselman sê hy het die honde uiteindelik geskiet nadat die Dierebeskermings-vereniging (DBV) nie op sy vrou of sy versoek uitgekom het nie. Debbie het die DBV net voor 12:00 in kennis gestel.
"Ek het daarna ook met die inspekteur aan diens gekommunikeer, maar daar het Dinsdagmiddag eers iemand by ons aangekom. Ek voel baie ongelukkig dat dit die roete is wat ek moes neem omdat die DBV nie vinniger gereageer het nie."
Een van die honde wat die skade aangerig het.
Herselman het ook 'n klagte van saakbeskadiging by die polisie gelê.
Salome Bruyns, senior inspekteur van die plaaslike DBV, het by navraag gesê inspekteur Henrico Pypers het Sondagaand 'n oproep op die noodfoon van Herselman ontvang.
"Mnr. Herselman het vir inspekteur Henrico gesê dat hy 'n vermoede het wie se honde dit is, hoewel hy nie seker was nie, maar sal uitvind wie s'n hulle is en presies waar hulle bly. Hy sou ons dan terugskakel sodat ons die honde kan gaan optel. Ons inspektoraatkontroleur, Amber du Preez, het mnr. Herselman Dinsdagoggend geskakel om aanwysings te kry aangesien mnr. Herselman nie teruggeskakel het nie.
Hy het vir haar gesê dat hy nie nou met haar kan praat nie. Inspekteur Groenewald het mnr. Herselman later dieselfde oggend weer geskakel omdat ons niks van hom gehoor het nie, siende dat sy ander oproepe in die area gehad het en in daardie rigting moes gaan vir ander werk.
Hy het vir haar gesê dat hy reeds aanwysings gestuur het wat sy toe op ons noodfoon gevind het. Inspekteur Groenewald het uitgery en mnr. Herselman ontmoet wat eers vir haar genoem het dat die honde nie daar is nie en toe later aan haar erken het dat hy die honde met hulle eienaars gevind en die honde geskiet het.
"Ons voel dat dit uiters onnodig was en dat mnr. Herselman reeds in kontak met ons was en ons net weer kon geskakel het om ons te verwittig dat hy die eienaars en die honde gevind het. Ons sou onmiddellik 'n voertuig uitgestuur het om die honde te gaan haal. Ons verstaan en erken ook dat dit onaanvaarbaar is dat honde skape aanval en dit onnodige lyding vir die skape veroorsaak. Ons is tans besig om die saak verder te ondersoek."
Herselman het in reaksie gesê: "Tereg, ek het hulle nie in kennis gestel dat ek die honde gevind het nie, maar dit is nie aanvaarbaar dat hulle eers Dinsdagmiddag hier aankom nie.
Hulle is ook nie Sondagaand vir die eerste keer in kennis gestel nie. My vrou het hulle reeds vroeër die dag gebel." (Herselman het 'n skermgreep van sy vrou se foon gestuur wat wys dat daar om 11:51 'n oproep van twee minute na die DBV was.)
Van die skape probeer skuil in 'n hoek van die kamp.
Nog 'n wond wat deur die honde veroorsaak is.
Van die skape probeer skuil in 'n hoek van die kamp.
Volgens die eienaar is 50 skape beseer.
Die honde het ernstige beserings veroorsaak. Ses is doodgebyt en vier moes uitgesit word. Vyftig skape is beseer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'