GEORGE NUUS - 'n Saak van dieremishandeling is deur die Tuinroete DBV geopen ná 'n hond van Borcherds uitgesit moes word weens 'n messteekwond. "Omstreeks 20:00 Maandagaand, 9 Desember, het ek 'n oproep van die George-polisie gekry oor 'n hond in Nelstraat wat met 'n mes gesteek is," vertel DBV-inspekteur, Andrea Auerbach.
"Met my aankoms was die hond, Brownie, in haar eienaars se erf. Die mes was nog in haar rug en slegs die handvatsel het uitgesteek. Sy was in verskriklike pyn en het getjank wanneer sy beweeg het," sê Auerbach.
Die eienaar het die hond aan die DBV oorhandig waarna Auerbach vir Brownie na hul kliniek geneem het. Weens die omvang van haar beserings en die ontsaglike pyn waarin sy was, is daar besluit om Brownie uit te sit.
"Die persoon wat dit aan die hond gedoen het, is aan almal in die straat bekend. Hy het haar voor 'n groot groep mense aangeval. Ons is steeds geskok en met afgryse gevul deur hierdie gruweldaad en gaan alles in ons vermoë doen om geregtigheid vir Brownie te laat geskied," sê Auerbach.
Die vorige dag, Sondag 8 Desember, het Auerbach 'n oproep uit Rosedale ontvang oor 'n hond wat in die keel gesteek is.
"Die hond is glo in die keel gesteek na hy 'n kind gebyt het. Die eienaar was vreeslik ontsteld hieroor en het gesê hoewel die hond 'n kind aangeval het, wou hulle eerder die DBV skakel om die hond te verwyder."
A dog from Borcherds had to be euthanised by the Garden Route SPCA after she was stabbed with a knife in her back. When SPCA inspector Andrea Auerbach arrived on the scene, the knife was still lodged in the dog's body. She was in extreme pain and due to the extent of her injuries she was put to sleep. The SPCA has opened a case of animal cruelty.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'