Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hoërskool Outeniqua is breëbors nadat elkeen van sy 336 matrieks van die 2019 matriekklas geslaag het. Boonop het 93,45% van die matrieks geslaag om aan 'n universiteit te gaan studeer. Dit is die meeste ooit in die skool se geskiedenis. Die gemiddelde van die graadgroep is 67,2%.
Die skoolhoof, Christo Vorster, het Woensdag kort na 12:00 die uitslae aan leerders en familie in 'n volgepakte skoolsaal bekend gemaak.
Vorster sê hy is nou 10 jaar by die skool en dit is die aangenaamste groep matrieks waarmee hy te doen gekry het. Hy skryf hul sukses toe aan 'n spanpoging tussen ouers, onderwyser en leerders.
Altesaam 54 kandidate het 'n A-gemiddeld verwerf. Uit die groep het 21 kandidate bo 85% verwerf en sewe bo 90%.
Altesaam 567 vakonderskeidings is behaal - 24% van al die vakke wat geskryf is.
Twee kandidate het agt onderskeidings behaal. Die dux-leerling is Tycho van Camp, wat sewe onderskeidings behaal het. Hy beplan om later vanjaar fisika in België te gaan studeer.
Hy sê die rede vir sy sukses is harde werk. Voorts was hy omring deur goeie vriende. Hy het ook 'n pluimpie vir die skool se onderwysers: "Outeniqua het die top onderwysers in die land."
Ivan Bandenhorst het 100% in wiskunde behaal. Hy kon nie Woensdag teenwoordig wees nie.
Esti Louw het 100% in visuele kunste behaal. Sy is op pad Pretoria toe waar sy vanjaar gaan studeer om 'n veearts te word. Sy het ook lof gehad vir haar onderwysers en die skool.
Kyk 'n video hieronder.
Jay-Lee Willemse se familie wens hom geluk kort nadat hy sy uitslae ontvang het. Hy het ses onderskeidings verwerf en gaan medies studeer. Foto: Eugene Gunning
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, saam met twee van die skool se presteerders, Craig Bredenkamp en Esti Louw. Foto: Eugene Gunning
Geluk vriendin! Kaye-Lynn Theron (links) en Angel Maplela kort nadat hulle hul matriekuitslae ontvang het. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'