GEORGE NUUS - Eerste Nasionale Bank (ENB) sê in 'n onlangse verklaring elektrisiteit is een van die grootste uitgawes van hul intree- en middelinkomste-kliënte en met die jongste kragprysstyging sal baie huishoudings hul reeds beperkte begrotings verder moet rek om die ligte aan te hou.
"Ongelukkig kom die prys-verhoging op 'n tyd dat kliënte onder erge finansiële druk is. Sommige kliënte in hierdie inkomstegroepe moet hulle dikwels tot skuld wend om deur die maand te kom," sê Kamal Kalian, uitvoerende hoof van die hoë-inkomste-segment van ENB.
Waar 'n huishouding R500 per maand op krag spandeer, sal 'n ekstra uitgawe van ten minste R75 ingereken moet word.
Volgens ENB-data het die gemiddelde spandering op krag onder kliënte met 'n 'Intreemark'-bankrekening tussen 2019 en 2020 toegeneem met 9%. 'Middelmark'- en 'Premier'-rekeninghouers het tussen 14% en 15% meer spandeer.
"Hierdie kliënte gebruik gereeld eBucks om hul kragaankope te subsidieer en hulle het rofweg R4,5 miljoen se eBucks vir kragaankope oor hierdie periode gebruik."
Impak op die boer
'n Plaaslike boer van die Geelhoutboom-area, Leon van Rooyen, sê as die persentasie-verhoging in Eskom se tariewe die afgelope 18 tot 24 maande in ag geneem word, is dit besig om die boer heeltemal dood te maak.
"Die verhouding van kragprysverhogings teenoor die winsmarge van die boer of verskaffer van 'n produk op die rak, word ver oorskry. 'n Boer moet deesdae baie fyn sommetjies maak voordat hy 'n besproeiing- of pompstelsel gebruik."
Van Rooyen sê hy subsidieer sy plaasarbeiders se krag met meer as 50% omdat hulle nie krag met die minimumloon kan bekostig nie. Die onkoste om gratis water na hul huise te pomp, verhoog sy rekening ook met die styging.
'n Stywe kragbeskikbaarheidsfooi geld in die platteland, waarby werklike verbruik nog bygereken moet word. "Die Eskom-punt moet jy betaal of jy dit nou gebruik of nie."
Xolisani Booi, voorsitter van die George-gemeenskapsforum, sê hy is bekommerd oor die impak van die hoër kragtarief op veral die armste van die armes, vernaamlik noudat baie mense hul werk verloor het weens die pandemie.
'Kan nie byhou nie'
Massimo Mariotti, direkteur van Salina's Beach Restaurant in Wilderness, sê tans sal enige prysverhogings 'n impak op netto-inkomste hê. "Die gasvryheidsbedryf het nie enige marges nie, want ons is totaal beperk tot die plaaslike mark en plaaslike ekonomie, wat swaar trek weens Covid-19 se impak.
Internasionale toeriste met hul sterk geldeenhede het 'n geweldige impak gehad gedurende vorige somers met hoër spandering en dit was tot nou toe feitlik afwesig.
Die plaaslike mark kan nie byhou by die verhoogde pryse nie en restaurante ding reeds mee om 'n beperkte poel klante deur middel van voortdurende spesiale aanbiedinge. Anders as met essensiële dienste, kan ons nie net aanhou om pryse te verhoog nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'