Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Groep bewoners van 'n plaas in Hansmoeskraal wat tans die grond beset, is hoopvol ná 'n dringende hofaansoek om redelike toegang tot die perseel. Dit is verlede Vrydag toegestaan.
Die aansoek het slegs betrekking op twee inwoners - 'n hoogs swanger vrou en 'n kankerlyer - wat glo sukkel met toegang tot die perseel nadat 'n elektroniese hek onlangs deur die plaaseienaar, Jan Oosthuizen, aangebring is.
Die res van die bewoners se aansoek tot redelike toegang sal ook voor die hof dien, maar nie as 'n dringende aansoek nie.
Tans woon sowat 28 volwassenes en 'n klompie kinders in strukture op hierdie plaas, wat bekend staan as die "hoenderhokke". Van hulle woon skynbaar reeds jare op die grond.
'n Swanger vrou, Madeleine Oosthuizen, voer aan sy moes 45 minute wag voordat die eienaar die hek oopgemaak het, wat veroorsaak het dat sy twee kliniekafsprake misgeloop het. 'n Kankerlyer se vrou, Anna Olsen, is bekommerd dat 'n ambulans nie haar lewensmaat, Willem Braaf, sal kan bereik indien hy asemnood het nie.
Jan Oosthuizen het by navraag gesê niemand wat daar woon, word toegang geweier nie.
"Hulle moet my net 'n missed call gee, dan maak ek oop. Daar is 'n sekuriteitskamera by die hek. Niemand wag langer as vyf minute nie."
Oosthuizen wil sy eiendom met die toegangshek beveilig, omdat hy 'n stoor op die plaas wil aanbring. "Die meeste van hulle is in en uit die tronk met diefstal en sulke dinge. Ek kan nie stoorfasiliteite opsit met kriminele elemente nie.
Sodra ek iets doen op die grond, dan is dit die volgende dag gesteel. Ek wil ook keer dat nuwe mense hulle hier vestig," het hy gesê.
PBI-leier Virgill Gericke (links) probeer 'n bewoner, Anna Olsen, help. Gericke sê 'n tekort aan water het tot gevolg dat die okkupeerders nie hul spoeltoilette kan gebruik nie wat 'n gesondheidsrisiko raak, veral vir die kinders.
Die vorige plaaseienaar het huur van die bewoners ontvang. Oosthuizen neem egter geen huurgeld van die mense nie. "Die ooreenkoms was dat die mense die eiendom moet verlaat, maar die vorige eienaar het dit nie geëer nie," het hy gesê.
"Ek het nog nie 'n uitsettingsbevel bekom nie, maar dit sal seker een of ander tyd moet gebeur. Dit sal my ongeveer R100 000 kos. Baie van die gesinne het hul al elders gevestig."
PBI-leier Virgill Gericke, het die mense in hul paniek bygestaan en regshulp bekom.
"Die PBI staan vir die regte van alle mense," het hy gesê. "Ons is dit eens dat Oosthuizen die regmatige grondeienaar is. Wat wel in dispuut is, is die feit dat die huidige okkupeerders ook grondwetlike regte het. Dit is hierdie regte tot water en elektrisiteit en 'n veilige omgewing wat ons probeer beskerm."
Van links is Madeleine Oosthuizen, haar ma Frieda Oosthuizen, Marianna Roelf en haar dogter Bianca (2), Henzely Windvogel en haar seun Marciano (11), Imelda Kennedy en haar seun Fiago (3). Voor is Tracy van der Merwe en haar kinders Braelynn (2) en AJ (7).
Hoewel die bewoners ontevrede is omdat hulle nie van krag voorsien word nie, het Charlton Brown, 'n plaaslike prokureur wat pro bono vir Madeleine Oosthuizen en Braaf optree, bevestig dat die dringende aansoek slegs verband hou met toegang tot die perseel.
'n Vorige prokureur se aansoek vir elektrisiteitsvoorsiening is deur die grondeisehof van die hand gewys.
Kyk 'n video hieronder:
Oosthuizen moes wel die watertoevoer herstel, waarna hy 'n sentrale waterpunt aangebring het.
"Wat ons sê is: 'Dit is jou eiendom, jy kan die toegang beheer, maar wees redelik'. Hulle het toegang, maar dit word nie redelikwys gegee wanneer dit versoek word nie," het Brown gesê.
"'n Interkomstelsel behoort die probleem op te los. Aangesien daar nie krag is nie, kan die ouens nie met hul selfone herlaai en bel nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'