GEORGE NUUS - 'n Fees om Hoekwil Laerskool se 100-jarige bestaan te vier, word vir die eerste week in Mei beplan.
Die hooforganiseerder, kunstenaar Ian Visser, sê hulle beoog 'n opwindende program van Dinsdag 3 Mei tot Saterdag 7 Mei waar oud en jonk betrek gaan word.
"Die Vleie NG kerk, die skool, inwoners, belastingbetalersvereniging en besighede is betrokke. Daar sal aktiwiteite in Hoekwil en Wilderness plaasvind."
Die fees skop af op 3 Mei met 'n kaskar-parade by die skool. Van die aanbiedings op die voorlopige program is 'n boomplant-geleentheid waar 100 inheemse bome geplant word vir eeufeeslanings in Hoekwil se Kerkstraat en by die Wilderness-meent, 'n gesinspretdraf en -fietsry, strandvlugbal, en 'n kanoresies op die Touwrivier.
Die Eeufees Hop & Stop ('n kroegtoer) in Hoekwil en Wilderness waar deelnemende restaurante elk 'n unieke drankie of iets te ete rondom die eeufeestema aanbied, beloof om gewild te wees.
'n Gespreksaand met die bekende plaaslike inwoner en skrywer, Hugo Leggatt, gaan 'n interessante terugblik bied op die geskiedenis.
Die groot karnaval vind op Saterdag 7 Mei by die skool plaas. Daar sal heeldag stalletjies en lewendige musiek wees met 'n groot verskeidenheid aktiwiteite en vermaak vir oud en jonk.
Tydkapsule word begrawe
'n Tydkapsule gaan by Laerskool Hoekwil begrawe word met items wat die hedendaagse lewe kenmerk.
Verder word 'n eeufeesmuur op die skoolterrein opgerig waarop elke leerder wat tans in die skool is, se handafdruk aan die voorkant verewig sal word. Die stene in die muur kan geborg word en 'n plaatjie op elke steen (aan die agterkant van die muur) sal die naam van die donateur dra.
Bronsbeeld by Leentjiesklip
Nog 'n opwindende geleentheid is die onthulling van 'n bronsbeeld by Leentjiesklip waaraan Visser tans werk. George se eie liedjieskrywer en sanger, Koos van der Merwe, het 'n liedjie geskryf en getoonset wat deur dié beeld geïnspireer is.
Stuur ou foto's en tradisionele resepte
Die feesorganiseerders nooi die publiek om artefakte en ou memorabilia te leen vir uitstalling tydens die fees, en om ou foto's wat Hoekwil se geskiedenis uitbeeld, in te stuur vir 'n eeufeesfotoalbum.
Mense kan ook eg tradisionele familie-resepte van die Hoekwil-omgewing instuur wat opgeneem sal word in 'n 100-jaar kookboek. Een resep sal gekies en voorberei word deur 'n voormalige dosent vir Suid-Afrikaanse Michelin-sjefs.
Dit sal by 'n funksie tydens die fees voorgesit word. Die Donkiekar-boereorkes kom ook by hierdie geleentheid optree.
60-plussers vereer
Persone van 60 jaar en ouer wat in Hoekwil en Wilderness gebore en getoë is, gaan tydens 'n gala-aand die BBP's van die aand wees en sal spesiale eeufeesmedaljes ontvang. 'n Gekombineerde skoolkoor met leerders van Hoekwil en Touwsranten Primêr word tans op die been gebring en hulle gaan moontlik by hierdie aand optree. George se toerismehoof, Joan Shaw, is die gasspreker by die gala-aand en Koos van der Merwe gaan musiek maak.
Ou foto's en resepte kan gestuur word na nadine@cornerstoneart.co.za. Besighede wat vlotte wil inskryf en restaurante wat deel wil wees van die Hop & Stop, kan ook hierdie e-posadres gebruik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'