GEORGE NUUS - Die algemene werkloosheidsyfer is 'n bron van kommer, maar wat nog meer kommerwekkend is, is die getal jeugdiges wat nie werk het nie. Dit is die mening van mense wat hul vinger op die pols van die sakewêreld en die gemeenskapslewe hou.
Luidens syfers wat deur Statistiek SA bekend gemaak is vir die eerste kwartaal van die jaar het Suid-Afrika nou 6,7 miljoen werkloses.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het by navraag gesê uit die nuutste syfers blyk dit dat die gemiddelde werkloosheidsyfer 29,3% is. Onder vroue is dit 31,3 %, onder mans 27,12% en onder die jeug 56,4%. Die jeug word beskou as mense tussen die ouderdomme van tussen 15 en 24 jaar.
Farrell het gesê die sakekamer is besig om te kyk hoe die jeug in die toekomstige ekonomie betrek kan word.
Volgens hom is die tradisionele sektore vir werkskepping besig om te kwyn. Dit is byvoorbeeld finansiële dienste en die kleinhandelsektore. Tegnologie en ekonomiese neigings speel 'n rol.
Hy het benadruk dat daar verstaan moet word wat die nuwe dryfkragte vir die ekonomie is. Daar moet bepaal word wat die behoeftes van die ekonomie in George en die Tuinroete is. Voorts moet vasgestel word watter vaardighede is beskikbaar en wat nog benodig word. Dan kan gepoog word om beleggers te lok.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap.
Die privaat sektor, staatsinstansies en opleidingsinstansies moet hande vat. Paslike ontwikkelingsprogramme en kwalifikasies moet ook geïdentifiseer word. Hy het voorts gewys op die rol van die informele ekonomie en hoe geleer kan word uit byvoorbeeld werkskepping in die sektor.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug, maak hom diep bekommerd.
"Dit is onaanvaarbaar. Ons as politieke leiers is ook verantwoordelik vir die hoë werkloosheidsyfer in die algemeen. Ek weet van projekte by die distriksmunisipaliteit wat minstens 500 werksgeleenthede sou skep. Van die ander politieke leiers was egter 'n stok in die wiel."
Sulke optrede dryf beleggers weg, want hulle is nie bereid om te wag nie. "Politieke leiers moet dit vir beleggers moontlik maak om te kan belê." Volgens hom is dit belangrik dat werk vir die jeug geskep word. "Die toekoms lê by die jeug."
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Foto: Eugene Gunning
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die werkloosheidsyfer onder die jeug is werklik kommerwekkend. 'n Beginpunt is aanpassings aan die onderwysstelsel. Reeds op skoolvlak moet met entrepreneursopleiding begin word.
Dit moet prakties gerig wees en kundiges uit die sakewêreld moet betrek word. Die groot uitdaging is dat nie werksoekers nie, maar werkskeppers opgelei moet word.
Concern has been expressed regarding the high unemployment figure among the youth. According to the latest figures the unemployment rate among the youth aged 15 to 24 is 56,4%. Business and community leaders ask that something must be done to address the situation because the youth are the future.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'