TUINROETE EN OOS-KAAP NUUS - Gemeenskapslede is dikwels ontsteld wanneer verdagtes, beskuldig van ernstige misdrywe, borgtog kry terwyl die mense dink hulle is te gevaarlik om in die gemeenskap toegelaat te word.
Onlangse voorbeelde sluit in die geval waarin ses moordverdagtes borgtog in die George-landdroshof toegestaan is.
In die lig hiervan het Group Editors 'n plaaslike prokureur, Louise Luterek, 'n kenner in strafreg van Luterek Prokureurs, genader om uit te klaar wat 'n borgtogaansoek behels.
Eerstens is dit belangrik om te besef dat borgtog en borgtogvoorwaardes nie bedoel is om 'n uitspraak of 'n vonnis te wees nie, en dien eerder om te verseker dat die beskuldigde hof toe kom vir sy/haar verskynings.
Die betaalbare bedrag vir borgtog dui ook nie op die skuld of onskuld van 'n beskuldigde nie.
"Die basiese beginsel onderliggend aan die wet op borgtog is dat 'n beskuldigde geregtig is op borg waar die belange van geregtigheid dit toelaat," sê Luterek.
Wetlik kan iemand nie skuldig aanvaar word bloot omdat hulle in hegtenis geneem is nie. "Die beskuldigde kan 'n borgtogaansoek voor die hof bring om vrygelaat te word op sekere gronde, bepalings en voorwaardes, soos die hof mag oplê.
"Ingevolge ons land se grondwet het alle mense die reg om vry te wees en die reg op 'n regverdige verhoor," sê sy.
Onskuldig tót skuld bewys word
Onthou, 'n beskuldigde is onskuldig totdat hy of sy deur die hof skuldig bevind is en geen hoeveelheid hoorsê of gerugte wat versprei word, kan dit verander nie.
Wat is borgtog, en wat behels die borgtogaansoek?
Die Suid-Afrikaanse grondwet maak voorsiening dat diegene wat van 'n misdaad beskuldig word, die reg het om borgtog te kry, ongeag hul misdade.
Borgtogaansoeke is 'n ernstige en sensitiewe prosedure en dit is belangrik om die proses te verstaan.
Borgtog is 'n bedrag wat die beskuldigdes moet betaal om te verseker dat hulle tydelik vrygelaat word indien hulle in hegtenis geneem word in verband met 'n kriminele oortreding. Die drie tipes borgtogaansoeke sluit in polisieborgtog, aanklaersborgtog en borgtogaansoeke in die hof.
Nie 'n ligtelike besluit nie
Die hof sal verskeie faktore in ag neem voordat borgtog toegestaan word. Daar word oorweeg of dit in die belang van geregtigheid sal wees as iemand op borgtog vrygelaat word. 'n Beskuldigde kan hul borgtogaansoek in enige stadium voor skuldigbevinding bring.
Nóg 'n oorweging is van watter skedule misdryf die beskuldigde aangekla word.
Daar moet in alle gevalle bewys word dat daar buitengewone omstandighede is wat dit moontlik maak dat 'n beskuldigde vrygelaat moet word.
Bylae 6-misdrywe, soos moord, verkragting of roof, maak dit moeiliker vir die beskuldigde om te bewys dat daar buitengewone omstandighede is as 'n laer bylaag misdryf.
Tydens 'n borgtogaansoek moet die beskuldigde onder andere ook bewys dat hulle nie die veiligheid van die publiek of 'n persoon in gevaar sal stel nie, dat hulle nie die verhoor sal ontduik nie, dat hulle nie getuies sal beïnvloed of intimideer, of bewyse versteek nie, dat hulle nie die doelwitte van die regstelsel sal minag of beïnvloed nie en dat hulle nie die openbare orde of vrede en veiligheid sal versteur nie.
Tydens die borgtog-aansoek moet die beskuldigde die hof inlig oor enige vorige veroordelings of hangende sake. Onder hierdie bepalings is daar ook heelwat prosesse en vereistes waaraan die beskuldigde(s) moet voldoen, en die hof sal al die inligting oorweeg voordat 'n besluit geneem word.
Die aansoek kan vir tot sewe dae uitgestel word. As die hof borgtog toestaan, moet die beskuldigde die vereiste bedrag aan 'n hofklerk betaal.
Indien borgtog geweier word, kan 'n mens slegs 'n nuwe borgtogaansoek op nuwe feite voor die hof bring, of die hele borgtog-aansoek kan op appèl na 'n hoër hof gaan.
Drie verskillende vorme van borgtogaansoeke:
Polisieborgtog
Dit is onderhewig aan Artikel 59 van die Strafproseswet 51 van 1977, wat bepaal dat enigiemand wat vir 'n misdaad gearresteer word, binne 48 uur ná die inhegtenisneming by 'n polisiestasie kan aansoek doen om borgtog voordat hy die eerste hofverskyning bywoon. Hierdie tipe borgtogaansoek sal slegs vir geringe misdade toegestaan word.
Aanklaerborgtog
Onderhewig aan voorwaardes uiteengesit in Artikel 59A van die Wet, kan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) of 'n aanklaer wat skriftelik deur die DOV gemagtig is, 'n vrylating op borgtog voor die verdagte se eerste hofverskyning toelaat - slegs indien hulle aangekla is van 'n Skedule 7 oortreding en na konsultasie met die ondersoekbeampte.
Borgaansoeke in die hof
Indien iemand van 'n Bylae 5- of 6-oor-treding aangekla is, sal hy/sy 'n formele borgtogaansoek voor die hof moet doen. Daar is twee maniere om dit te doen. Die eerste behels die aansoek om borgtog met 'n beëdigde verklaring en die tweede behels dat die beskuldigde of getuies na die tribune geroep word.
Bylae 5, 6 en 7 oortredings word soos volg gedefinieer:
Bylae 5-misdrywe sluit in, maar is nie beperk tot: moord, poging tot moord, onwettige handel of smokkel van vuurwapens, korrupsie, onsedelike aanranding, dwelmverwante misdade, verkragting, afpersing, bedrog, diefstal of vervalsing ter waarde van R500 000.
Bylae 6-misdrywe sluit in, maar is nie beperk tot: moord met voorbedagte rade en verkragting wanneer dit gepleeg word in omstandighede waar die slagoffer verskeie kere verkrag is.
Bylae 7-misdrywe sluit in, maar is nie beperk tot: bedrog of diefstal van hoogstens R20 000, besit van dwelms, roof, aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer en strafbare manslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’