Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Haweloses wat saans voor die George-landdroshof in Courtenaystraat kamp opslaan, is 'n wesenlike probleem en staan soos 'n seer oog uit.
'n *Leser het aan die George Herald gesê sommige van die haweloses teister voetgangers, en maak 'n oorlas van hulself. Die plek in Courtenaystraat waar hulle tuisgaan, gebruik hulle ook as 'n openbare toilet. 'n Swaar reuk van urine omring dié blyplek.
"Ons moes 'n veiligheidshek laat installeer omdat die mense wat voor die hof slaap sommer by ons aanklop om die badkamer te gebruik. Ons voel onveilig. Ons wil ook nie meer daar verby stap nie. Wanneer gaan iets hieraan gedoen word?"
Johan du Preez (53) en sy hond, Fix, woon reeds drie maande voor die landdroshof. Hy vertel dat hulle geen ander heenkome het nie en sukkel om werk in George te kry. Hy is ook 'n epilepsielyer. "Ek kan nie van die nagskuiling gebruik maak nie, want hulle laat nie honde toe nie en ek weier om vir Fix af te staan. Hy is al 19 maande lank my broer, en ek kan hom nie net so weggooi nie."
Du Preez kom uit Vanderbijlpark en het na George verhuis met hoop vir 'n beter toekoms. 'n Droom wat selfs in hiérdie hoekie van Eden nie bewaarheid is nie.
Hy het aan die George Herald gesê dat hy aan die einde van die maand wil teruggaan Vanderbijlpark toe, maar kan nie van openbare vervoer gebruik maak nie, want Fix gaan nie toegelaat word nie. Hy het familie daar by wie hy kan bly tot hy weer op sy voete is. Op die vraag of sy familie hom nie kan kom haal nie het hy doodeenvoudig gesê: "Nee, nie 'n manier nie, hulle sal nie so ver kom nie."
Soos Du Preez is die 53-jarige Hermien Philander ook sonder huis of haard. "Ek bly nou al ses maande hier voor die landdroshof. Ek is siek en kan nie werk nie, so ek kan nie by die shelter bly nie." Sy sê haar man is 'n karwag by die George-biblioteek en die geld wat hy verdien word vir "ander goedjies" gebruik.
"Ons pla niemand hier nie. Die mense weet van ons en ons mag hier bly solank ons dit netjies hou, ons is gemaklik hier." Philander sê hulle verkies om daar te bly vir veiligheidsredes, want dis naby die polisiestasie.
Kyk 'n video hieronder.
Chris Classen, assistent-bestuurder van die George-nagskuiling sê hulle is bewus van die mense wat voor en om die landdroshof woon en slaap. "Dis 'n moeilike situasie, want ons kan hulle nie forseer om in die nagskuiling te bly nie. As 'n nuwe persoon by ons aankom kan hy of sy die eerste aand verniet bly indien hulle nie kan betaal nie. Daarna moet hulle R25 per nag betaal. Ons voorsien aandete, 'n bed, beddegoed, 'n stort, ontbyt, en in sommige gevalle selfs klerasie, maar van hulle verkies steeds om op straat te lewe."
Hy sê in die winter neem getalle by die nagskuiling toe en is hulle baie aande oorvol, maar hulle maak steeds voorsiening vir wie ook al by hulle aanklop.
George-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, het aan die George Herald gesê dat haweloses ongelukkig 'n wêreldwye verskynsel is wat aandag moet geniet, maar nie noodwendig onmiddellik opgelos kan word nie.
"Ons gemeenskapsontwikkelingsafdeling poog daagliks om die maatskaplike kwessies aan te spreek deur 'n werkskepping- en plasingsprojek vir haweloses. Ons help persone om hul identiteitsdokumente te bekom en om aansoek te doen vir 'n staatstoelaag. Persone wat werk en/of in afwagting is vir hul staatstoelaag kan reëlings tref met die George-nagskuiling vir verblyf."
"Ons help persone wat uit die nagskuiling wil beweeg om blyplek te kry, asook nuwe persone om by die nagskuiling aan te sluit. Daar is ook mense op straat wat nie by die nagskuiling wil bly nie as gevolg van die streng reëls wat dwelms en drank verbied," sê hy.
Volgens hom is wetstoepassers nie by magte om haweloses van die perseel van 'n staatsinstansie of privaat eiendom te verwyder sonder grondige rede nie.
*Die leser, wat in die area werksaam is, het gevra om anoniem te bly uit vrees dat sy geteister sal word.
Lees die munisipaliteit se volledige verklaring hier.
* Vagrants living in front of the George Magistrate's Court in Courtenay Street are becoming a major problem for members of the public. A concerned reader told the George Herald some of these vagrants harass pedestrians and are making a nuisance of themselves. They use the area as a public toilet and a strong urine stench surrounds the area. According to George Municipality, law enforcement officers are unable to remove the vagrants without a bona fide reason.
ARTIKEL & VIDEO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERANALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'