"Dit was vanuit ‘n historiese oogpunt ‘n belangrike dag, want die St. Pauls in Conville is nou 40 jaar oud. Die eerste kerkie waar die gemeente gesetel was, die St. Pauls in Marklaan, is in 1850 gebou en in 1851 in gebruik geneem, en is dus vanjaar 160 jaar oud," sê Hyron Motha, koördineerder van die vieringe.
Gedwonge verskuiwing
"Dit was as gevolg van ‘n gedwonge verskuiwing dat die gemeente na ‘n nuwe kerk in Conville moes skuif en hul eerste kerkie moes verlaat toe die groepsgebiedewet ingekom het. Dis waar ons vandag nog aanbid," sê Motha.
Tydens die plegtige verjaarsdagvieringe, het die optog - met die eerste St. Pauls-kerk se oorspronklike houtkerkkruis op die voorpunt - ‘n presiese roete tussen die twee kerke geneem. "Dit was ‘n simboliese optog en ‘n uiters emosionele herdenking."
Die Young Royal Shepherds-blaasorkes het die optog gelei.
Vader Errol Frans van Lavalia sê daarna is ‘n volgepakte kerk vir die diens verwelkom deur die rektor, vader Abe Jacobs.
Onder die spesiale gaste was die onlangs verkose biskop, Brian Marajh, ds. Johan Matthysse van die VGK Hoogtes en raadslid Daniël Maritz van die George-munisipaliteit.
Ds. Matthysse, wat as een van die sprekers opgetree het, het beklemtoon dat die verskillende kerkgenootskappe met verskillende tradisies meer as ‘n eenheid moet opereer om effektief te wees.
Raadslid Maritz het die belangrikheid van die kerk in die lewe van die individu beklemtoon, veral wat karakterbou betref. Hy het ook verder daarop gewys dat die kerk ‘n integrale deel van die gemeenskap vorm.
Biskop Marajh het mense in twee groepe ingedeel - die ‘sonsondergaandes’ - die groep wat klem lê op die verlede; en ‘sonsopkomendes’ - die groep wat klem lê op die toekoms. Die balans lê êrens tussen die twee groepe.
Aan die einde van die diens het mnr. Attie Bruinders die bedankings gedoen aan die blaasorkes, die Young Royal Shepherds (met 25 koperblaasinstrumente) oor wie die gemeente gaande was asook aan die kore van St. Albans, Simon van Cyrene en
VGK Skuinskraal.
‘n Spesiale dankie het ook gegaan aan mnr. Hyran Motha wat as koördineerder en dirigent opgetree het tydens die erediens. Die diens is ook opgehelder deur pragtige gesange, insluitend Psalm 23.
Na afloop van die diens is gemeentelede genooi om versnaperinge in die kerksaal te geniet. "Ons was bewus van ‘n werklike Geesvervulde dag, ‘n dag wat ons altyd graag in ons herinneringe sal wil oproep," het vader Frans ten slotte gesê.
Die St. Pauls, vandag ‘n nasionale monument, is volgens kerkrekords oorspronklik as skoolkapel van die St. Pauls-sending in gebruik geneem op 25 September 1855 toe eerwaarde H Niepoth ingeseën is.
Die laaste diens is gehou op 30 Mei 1971 waarna die gebou gesekulariseer en verkoop is aan die George-munisipaliteit. Dit is onder andere as teater gebruik deur ‘n Afrikaanse toneelgroep, die Rederykers.

Vir sommiges in die St. Pauls- Anglikaanse gemeente was die simboliese optog tot by die heel eerste St. Pauls-kerkie in Marklaan, in die hartjie van George, ‘n bittersoet herdenking.

‘n Belangrike dag in die geskiedenis van die St. Pauls- Anglikaanse gemeente met van links (voor) vader Errol Frans, biskop Brian Marajh en vader Abe Jacobs (voor). Agter: Arthur Bruinders, Driesa Fredericks en Steven Louw.
ARTIKEL: PAULINE LOURENS