Die huis is in Porterstraat 13 geleë, en staan vir die laaste klompie jare leeg. Dit is 'n gerieflike oornagplek vir haweloses, het 'n klaer, wat graag anoniem wil bly, aan die George Herald gesê.
"Hulle kom slaap snags daar, en verdwyn voor die eerste mense werk toe ry. Ek voel nie meer veilig nie," het sy gesê.
Die eienaar van die huis, wat ook anoniem wil bly, is radeloos oor die situasie. Haar identiteit is bekend aan die George Herald.
"Ek het toestemming van die Erfenis-stigting gekry om die huis te sloop. Die huis is 110 jaar oud," het sy gesê.
"Ek wil graag eers bou op die erf, en die huis dan gebruik om boumateriaal in te stoor, alvorens dit gesloop word."
"Die ekonomie knyp egter, en ek kon nog nie die projek begin nie."
Die George-munisipaliteit het by navraag geantwoord dat hulle in gesprek is met die betrokke eienaar, ten einde 'n aanvaarbare oplossing vir die huidige probleme te vind.
Lang gras en trollies
Die klaer beweer dat die haweloses in die lang gras agter die huis skuiling soek, wanneer die polisie ontbied word. Volgens die eienaar help die bure om die gras voor die huis kort te hou, maar sy weet nie meer hoe om te keer dat haweloses hul intrek neem nie. Volgens haar het die haweloses alles binne-in die huis verwoes.
"Een aand is die polisie ontbied, nadat daar woes in die huis geplunder is," het sy gesê.
"Toe die polisie daar kom, sit 'n paar van die haweloses op 'n hele hoop goed buite die huis. Hulle het gewag vir ander om trollies by Pick n Pay te steel sodat hulle die buit kan wegry."
Die huiseienaar is net so radeloos oor die vernielsugtigheid van haweloses by haar besigheid in Knysnaweg, asook haar fabriek in die industriële area.
'n Huisie op die bult
Nog twee huise wat inwoners kwel is agter en oorkant die George-hospitaal geleë. Die huis agter die George-hospitaal, met die ingang na die huis in Davidsonstraat, is op 'n bultjie in 'n bloekombos versteek.
Volgens inligting behoort dié huis aan die departement van justisie. Chantel Edwards-Klose, mediaskakelbeampte van die munisipaliteit, het bevestig dat die eiendom aan 'n nasionale department behoort. Gerugte doen die rondte dat die huis 'n dwelmnes is. 'n Nou grondpaadjie loop van Davidsonstraat na die huisie. Motors word soms buite die huis opgemerk.
Volgens Edwards-Klose moet die gemeenskap die polisie kontak indien hulle vermoed dat onwettige aktiwiteite plaasvind, aangesien die munisipale wetstoepassingsbeamptes slegs kan optree wanneer daar op munisipale grond oortree word.
Die ander huis, voor die hospitaal, op die hoek van Davidson- en Barryweg, behoort aan Marius van Huyssteen, 'n plaaslike sake-
ondernemer. Volgens Van Huyssteen het hy "definitief" planne om te ontwikkel.
Edwards-Klose het bevestig dat hulle in gesprek is met Van Huyssteen oor die eiendom.
Van Huyssteen het in 'n kort onderhoud genoem dat "dinge onder beheer" is, en dat iemand na die perseel omsien. Hy is tans in Frankryk en sal later volledig uitbrei oor sy planne met die eiendom.
'n Huiseienaar moet aansoek doen by die departement van menslike nedersettings, grondsake en beplanning, alvorens 'n gebou gesloop kan word. Daar is kostes verbonde aan die aansoek. Indien die huis ouer as 60 jaar is moet die eienaar eers toestemming ontvang van die Wes-Kaapse Erfenis trust, en dit saam met 'n aansoek by die munisipaliteit indien.
*Historical buildings, in various degrees of decay within residential areas, causes problems for owners and residents alike. A house in Porter Street, in Denneoord, attracts vagrants who over night in the house, as well as trash it. Rumour has it that another house in a blue gum forest behind the George Municipality, in Davidson Road, is flooded with drug dealers. The historical ruin on the corner of Davidson Road and Barry Road, in Heatherlands, will someday be demolished to make way for development, said its owner, Marius van Huyssteen.

Die huis in Porterstraat 13 word snags deur haweloses oorgeneem. Die eienaar en inwoners van die straat is radeloos. Foto: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'