GEORGE NUUS - Henry Hill, burgemeesterskomiteelid vir beplanning en menslike nedersettings van die George-stadsraad, het bedank.
Hill, 'n DA-lid het ook as proporsionele lid van die stadsraad bedank. Hy het dit op Dinsdag 9 Mei bevestig.
Daar was groot opgewondenheid toe hy in die 2021-verkiesing onder die DA-vaandel verkies is. Voor sy toetrede tot die aktiewe politiek het hy meer as 30 jaar ondervinding van plaaslike regeringsadministrasie gehad en hy het verskeie senior posisies beklee.
In die middel 90's was hy ook betrokke by Kaapstad se poging om aangewys te word as die Suid-Afrikaanse stad wat uiteindelik 'n bod vir die aanbied van die Olimpiese Spele ingesit het.
Volgens Hill is hy in 2019 genader om by die politiek betrokke te raak. Hy het dit toe oorweeg en het homself uiteindelik verkiesbaar gestel. Nadat hy deur 'n keuringsproses gegaan het, is hy as kandidaat aangewys.
Hill het gesê dit was 'n moeilike besluit om die politiek te verlaat. Toe hy homself verkiesbaar gestel het, het hy gedink hy kan 'n bydrae lewer.
Die afgelope tyd het hy egter tot die gevolgtrekking gekom dat hy nie meer 'n bydrae tot aktiewe politiek kan lewer nie. Hy kan dit eerder op ander terreine en forums doen soos die George-belastingbetalersvereniging.
"Ek is optimisties oor die opstaan van die belastingbetalersvereniging. Ek is positief oor die rol wat belastingbetalers speel."
Hill het gesê hy is ontnugter oor die wyse waarop politiek bedryf word. Hy het benadruk hy wys nie vinger nie. "Ek gaan aan met my lewe. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het en nou gaan ek 'n bydrae op ander terreine lewer."
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, het gesê die party het kennis geneem van Hill se bedanking as proporsionele lid van die George-stadsraad. “Ons wens hom sterkte toe vir sy toekomsplanne.”
Die DA is in die proses om die vakature te vul en ‘n aankondiging sal binnekort gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’