GEORGE NUUS - Rugbykoors loop hoog onder SuidAfrikaners in die aanloop tot Saterdag se Wêreldbekereindstryd.
Miljoene SuidAfrikaners gaan Saterdag van 11:00 vasgenael voor die televisie sit wanneer Suid-Afrika en Engeland kragte meet op die rugbyveld in Jokohama, Japan.
Dan is dit die oomblik van waarheid en die tyd van praat verby. Die uitdrukking van “Rugby word nie op papier gespeel nie, maar op groen gras” is dan juis van toepassing.
Engeland word as die gunsteling beskou, maar moet Suid-Afrika nie weggooi nie. Hou gerus in gedagte dat elke keer toe die Springbokke in ‘n Wêreldbekereindstryd uitgedraf het, was hulle uiteindelik aan die wenkant. Natuurlik wonder mense (om verstaanbare redes) oor die skeidsregter.
Die Fransman, Jérôme Garcès blaas die fluitjie. Hopelik sal Suid-Afrikaners van alle agtergronde, net soos laas in 1995 en 2007, saam met die Groentruie feesvier wanneer Garcès Saterdagmiddag die eindfluitjie blaas.
En moenie verbaas wees as ‘n golf groen ondersteuners dan die strate invaar nie!
Die span van SSK AgriLand in George vang behoorlik gees vir die Wêreldbeker-rugbyeindstryd komende Saterdag wanneer die Springbokke teen Engeland kragte meet. Van links: Matilda Lombard, Onnae Dick, Annelie van Wyk, Laetitia du Plessis, Naomi Engelbrecht, Re-onie Prinsloo, Heinrich Janse van Rensburg, Laetitia Groenewald, Marianne van Eeden, Alba Botha, Johan Louw en Shahaad Baker.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'