Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As Henry kon praat, sou hy kon vertel van sy wedervaringe in van die gevaarlikste oorlogsones in die wêreld. Hy is voorheen gebruik om bomme in Afghanistan en Irak uit te snuffel en het onlangs 'n nuwe tuiste in George gekry.
Henry is 'n spanjoel en is al goed tuis by sy nuwe eienaars, Willie en Joan van Heerden. Hy is 11 jaar oud en kom oorspronklik van Engeland en is destyds deur die Britse weermag opgelei om plofstof in voertuie uit te snuffel.
Na sy opleiding is hy in 2010 saam met 'n honde-hanteerder na Kabul, hoofstad van Afghanistan. Dit is waar sy pad met Willie van Heerden gekruis het. Willie werk vir die Verenigde Nasies en is by ontwikkelingswerk betrokke. Daar was destyds onmiddellik 'n band tussen Henry en Willie.
Later is Henry na Baghdad, hoofstad van Irak, geneem om soortgelyke werk te doen. In Februarie 2014 is Willie ook na Baghdad verplaas. Daar in die groen-sone het hy weer vir Henry raakgeloop. Willie het hom geroep en Henry het hom herken en na hom gehardloop.
Die spesiale bril en skoentjies is as beskerming vir Henry se pote gebruik in die uiterste weersom-standighede. Foto: Eugene Gunning
Twee jaar gelede het Henry sy "aftree-ouderdom" vir honde bereik. Hy is daarna net binnenshuis by die lughawe in Baghdad gebruik.
Willie wou toe weet of hy die hond kon kry. Daar was egter 'n lang lys van ander aansoeke. "Ons was angstig dat ons hom nie gaan kry nie," het Joan vertel. Uiteindelik was hulle suksesvol en toe het die lang proses begin om Henry in Suid-Afrika te kry. Daar was streng voorwaardes wat onder meer tydperke in kwarantyn ingesluit het.
Kyk 'n video hieronder:
In Oktober het Henry se lang reis begin. Eers is hy per vliegtuig na Istanbul in Turkye. Vandaar na Parys, Frankryk en toe na Nairobi in Kenia. Van Nairobi is hy na Kaapstad gevlieg waar hy weer in kwarantyn geplaas is.
Henry saam met die Van Heerdens se kat, Pepper. Foto: Eugene Gunning;
Op 28 Oktober het Joan hom persoonlik in Kaapstad gaan haal. "Hy was reismoeg en verward."
Saam met hom was 'n spesiale bril en skoentjies wat gebruik is as beskerming vir sy oë en pote. In Afghanistan en Irak is daar by tye uiterste weersomstandighede. Dit sneeu in die winter en word baie warm in die somer. Temperature is soms -18°C en ander kere 45°C.
Henry pas goed aan in George. Joan het al met hom gaan stap en hy het ook al geswem. Hy en die gesin se ander hond, Skollie en die kat, Peper, kom gelukkig oor die weg. Willie het Suid-Afrika in November besoek en dit was 'n blye weersiens om sy vriend in George te sien.
"Henry het Willie dadelik herken en opgewonde geluide gemaak. Ons kan nie genoeg sê hoe dankbaar ons is nie," het Joan gesê.
Henry in die Rashid Hotel in Baghdad.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'