Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In George is 'n barmhartige Samaritaan wat wil help om die waternood in die droogte geteisterde Beaufort-Wes te verlig. Carlos da Silva, wat in beroepsveiligheid en gesondheid betrokke is, moet as gevolg van sy werk, lang paaie ry. Hy het sy bakkie beskikbaar gestel om water na Beaufort-Wes te neem.
Aan die agterkant van sy bakkie is juis 'n skets van 'n windpomp.
Carlos het aan die George Herald vertel hy hoor baie van mense wat praat oor die watersituasie in Beaufort-Wes, maar daar is nie regtig iemand wat die leiding neem nie. "Niemand wil die kruiwa stoot nie."
Hy het onlangs op 'n video op YouTube afgekom. Uit die video is die ellende van boere duidelik. 'n Boer vra dat die plaaslike mense bygestaan word.
Kyk 'n video hieronder
Volgens Carlos moet hy as gevolg van sy werk baie ry. Hy het 'n tydjie terug te doen gehad met 'n boer in Layton op die grens van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap wat twee jaar laas reën gesien het. Dit het 'n indruk op hom gemaak.
"Dit het my die punt gebring waar ek besluit het om die kruiwa vas te vat."
Op 30 Januarie het hy formeel besluit om iets te doen. "Ek het 'n bakkie waarmee ek water kan vervoer. Die Ford staan reg."
Hy is besig om water in te samel en baie mense het al aangedui dat hulle water sal gee. Hy sal die water aflewer by twee organisasies/instansies in Beaufort-Wes. Die een is Huis Johannes, 'n tehuis vir bejaardes en die ander is 'n nie-winsgewende organisasie wat mense met gestremdhede help.
Mense is welkom om die water te skenk en dit moet in byvoorbeeld bottels en kanne wees wat maklik hanteerbaar is.
Carlos het gesê hy help omdat hy elke dag die nood op grondvlak sien.
Mense wat wil help kan 'n e-pos aan hom stuur by carlos.dasilva@Rtismavin.co.za.
Tuiniqua-versorgingsentrum in George gaan ook water aan Beaufort-Wes skenk.
Dit volg na 'n skrywe van die Belangegroep vir Aftreeoorde en aanverwante instansies in die Suid-Kaap (Baask).
In die skrywe wat verlede week uitgestuur is vra die instansie alle inwoners van aftreeoorde en aanverwante instansies in die Suid-Kaap om drinkwater in 5 liter houers te skenk wat aan die Hesperos-ouetehuis in Beaufort-Wes versprei sal word. Daar is 45 huisies en 62 inwoners.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua, het gesê die instansie gaan sowat 100 5 liter bottels water skenk in samewerking met Oasis Water.
"Ons daag mense en instansies in George om dit ewenaar of te verbeter."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'