Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Oudleerders en oudonderwysers was onder die talle gaste wat Vrydag 12 November die 50-jarige verjaarsdagvieringe van Heidedal Primêr bygewoon het.
Dit het die vorm van 'n dankseggingsdiens en noot- en muntlegging aangeneem. Die geleentheid is ook deur ouers bygewoon en die leerlinge het van 12:00 op die skoolterrein bymekaargekom.
Eenkant het 'n tafel gestaan met foto's van hoofde wat al oorlede is en hulde is aan hulle gebring. Die land se volkslied is gespeel en kerse/fakkels is ook deur leerlinge, 'n ouer, 'n werker en 'n opvoeder van die skool aangesteek.
Dudley Schoeman, die waarnemende hoof, het 'n oorsig van die skool se geskiedenis gegee en vertel hoe dit gegroei het. Hy het gesê in 1971 toe die skool se deure oopgemaak het, was daar 809 leerlinge. Deesdae wissel die leerlinggetalle tussen 1 500 en 1 600.
Fotogalery: 50-jarige verjaarsdagvieringe van Heidedal Primêr
Destyds was daar 22 personeellede en in 2021 wissel dit tussen 38 en 44. In 1971 is gepraat van sub A tot standerd vyf. Nou word verwys na gr. 1 tot gr. 7. Later is begin met twee gr. R-klasse en op die oomblik is daar vier sulke klasse. Die plan is om dit uit te brei na ses gr. R-klasse.
Die skool het ses hoofde opgelewer en hulle het die skool elkeen op sy/haar unieke wyse bestuur. Oor die jare het die klasinfrastruktuur en atmosfeer baie verander. In klaskamers het dinge verander en almal moes aanpas by die veranderende tye en tegnologie.
Volgens Schoeman het die onderwysers help bou aan die skool se karakter. Die onderwysers wat voor gestap het, het 'n sterk fondasie gelê van eenheid en 'n tipe familie kultuur. Hy het die oudonderwysers wat teenwoordig was gevra om op te staan en hulle bedank vir hul bydrae.
Video: Heidedal word 50 jaar oud
John Ranna, 'n oudleerling en deesdae 'n ouer van die skool, het erkenning gegee vir die rol van die skool in die vorming van wie hy vandag is.
Hy het aan die leerlinge gesê dit maak nie saak waar hulle woon nie, hulle het die potensiaal om iets te word.
Van die oudonderwysers wat die 50-jarige vieringe bygewoon het.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'