GEORGE NUUS - Good-raadslid Richard Hector se twee tugverhore is goed op dreef, maar moes uitgestel word weens siekte onder paneellede. Die een verhoor sou verlede Woensdag, 26 Oktober plaasvind, maar is uitgestel tot 17 November vir uitspraak.
Die ander verhoor het Vrydag 28 Oktober afgeskop, en sal op 23 November voortgesit word.
Volgens Good se streekwoord-voerder, Donovan Saptoe, handel die eerste van die twee sake oor 'n voorval in die raad, waar Hector blykbaar die munisipale bestuurder Michele Gratz daarvan beskuldig het dat sy misleidend opgetree het.
Die ander saak handel oor 'n voorval waar Hector glo 'n senior bestuurder, dr. Kosie Haarhoff, in 'n gesprek tydens 'n geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering (GOP) by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal, te na gekom het.
Haarhoff is die adjunkdirekteur vir ekonomiese ontwikkeling, GOP en wykskomitees.
George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantèl Edwards, het bevestig dat die munisipaliteit geen kommentaar oor die aangeleentheid gaan gee nie.
"Die verskoning vir die uitstel van die eerste vergadering was omdat twee van die paneellede wat deur die raad aangestel is, siek was, en nie die verrigtinge kon bywoon nie," het Saptoe gesê.
"Dieselfde lede was ook afwesig by die tweede verhoor, maar hierdie keer het die voorsitter, raadslid Gert van Niekerk, besluit die verhoor moet voortgaan. Ons het voortgegaan onder protes, maar die verhoor het nie klaargemaak nie, want terwyl ons besig was, het die voorsitter en nog een van die paneellede gesê hulle voel te olik om voort te gaan en weens gesondheidsredes vir uitstel gevra. Die verhoor is vir 'n derde keer uitgestel."
Donovan Saptoe
Regverdig
Volgens Van Niekerk is die besluite geneem in die beste belang van die beskuldigde. "In die eerste verhoor het beide partye reeds hul saak gesluit, dus moet die saamgestelde regskomitee 'n bevinding maak, hetsy skuldig of onskuldig," het hy gesê.
"Twee van die komiteelede was siek, en ter wille van billikheid en regverdigheid teenoor Hector, het ek besluit om die saak uit te stel sodat die volle komitee se insette gelewer kan word. Ek sou kon aangaan omdat drie 'n kworum is - daar is vyf lede op die paneel - maar, ek het Hector in ag geneem."
"Die tweede saak is in die verhoorproses, so ons hoor nog getuies aan. Die verdediging moet nog sy saak stel. Al daardie getuienis word op band opgeneem, en ter wille van tydbepalings en 'n spoedige verhoor, het ek besluit, omdat daar 'n kworum is, kan ons voortgaan, maar ek het 'n bevel gemaak dat die opname getik sal word en vir die twee afwesige lede gegee sal word, sodat hulle hulself op datum kan bring.
"Tydens die verhoor het 'n lid van die paneel ongesteld geraak, en was ons nie meer 'n kworum nie. Ek moes dus die verhoor uitstel."
"Dit is dalk net goed om te noem dat die aangeleentheid met dr. Gratz al verskeie kere uitgestel is weens Hector wat siek was en sy regsverteenwoordiging wat nie beskikbaar was nie."
"My en my komitee se integriteit is nie te koop nie. Dit is ons primêre taak om te sien dat 'n verhoor billik en regverdig geskied en dat die reëls van natuurlike geregtigheid te alle tye nagekom word."
Benewens die twee verhore, is daar glo nog drie ander klagtes teen Hector, vanuit verskillende oorde. "Dit gaan bietjie rof, ons voel Hector word geviktimiseer," het Saptoe gesê.
Gert van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'