GEORGE NUUS - Ná hy vir bykans twee en 'n half uur tevergeefs vir 'n ambulans gewag het, is 'n hawelose man Saterdagnag dood.
Sammy Goliath, wat saam met 'n groep ander haweloses in die Markstraat-teater skuiling teen gure weer gesoek het, het omstreeks 15:00 van erge maagkrampe begin kla.
Raadslid Sean Snyman, lede van die Crime Spotters-buurtwag en Eden Lions het saamgespan om dié ou teater vir haweloses in te rig nadat ysige weer en vloedreën vir verlede naweek voorspel is.
Volgens Francois van der Merwe van Crime Spotters, het Goliath so 15:00 by die teater aangekom. "Met sy aankoms het hy gekla oor erge maagkrampe. Ek het aangebied om hom hospitaal toe te neem, maar hy het my aanbod van die hand gewys en gesê hy was reeds die vorige dag by die hospitaal en het medikasie gekry," sê Van der Merwe.
Om 23:37 het een van die sekerheidswagte wat aangestel is om oor die mense te waak, vir Snyman gebel. "Die wag het my gevra om dadelik 'n ambulans te laat kom, want Sammy het gesukkel om asem te haal. Ek het die brandweer gebel waarna hulle die provinsiale ambulansdiens van die voorval in kennis gestel het," het Snyman gesê.
Teen 01:30 het 'n Crime Spotters-buurtwaglid wat op patrollie was, Snyman laat weet dat daar nog geen teken van 'n ambulans is nie. Toe die ambulans glo teen 02:00 op die toneel aangekom het, was Goliath reeds dood.
Die provinsiale ambulansdiens is genader vir kommentaar, maar teen druktyd is niks ontvang nie.
Sommige haweloses van George het Saterdagaand skuiling in die Markstraat-teater teen die ysige koue gekry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'