GEORGE NUUS - Die George Herald het verlede week 'n gesoute joernalis ryker geword in die gedaante van Eugene Gunning wat hom by die Group Editors-span aangesluit het.
Gunning is al meer as 30 jaar in die joernalistiek. Sy loopbaan het by die destydse Die Vaderland in Johannesburg begin nadat hy 'n BA-graad asook 'n nagraadse diploma in Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf het.
Hy het later by Beeld gewerk waar sy politieke verslaggewing in die parlement in 1990 begin het. "Dit was 'n baie interessante tydperk. FW de Klerk het sy 2 Februarie-toespraak gehou en ek was ook op die Kaapse Parade toe Nelson Mandela vrygelaat is. Dit het 'n groot indruk op my gelaat. "
Van Beeld is Gunning na Finansies & Tegniek waar hy eiendomsredakteur was, en later na Rapport waar hy eers algemene verslaggewing gedoen het, voordat hy weer parlement toe gestuur is.
By die parlement het sy paaie weer gekruis met dr. Pieter Mulder, een van sy dosente in die Kommunikasiekunde. Mulder was in daardie stadium parlementslid. "Op ‘n dag het ons in die parlement se wandelgang in 'n argument betrokke geraak. Hy het van my verskil oor 'n berig wat ek oor sy party geskryf het, maar toe ek vir hom sê hy het my dan so geleer, kon hy net lag."
Dit was ook die dae net ná die 1994-verkiesing. "My tyd in die parlement was regtig besonders. Ek het onder meer die voorreg gehad om Rusland toe te gaan saam met Thabo Mbeki, toe adjunk-president, op 'n besoek waar joernaliste saamgenooi is. Mbeki het op 'n dag 'n krans by die Kremlin by die Rooiplein gelê. Dit het gesneeureën, en toe speel hulle die nuwe volkslied waarvan die Stem deel is. Dit was 'n surrealistiese ondervinding. 'n Klompie jare vantevore het ek nog diensplig in die ou weermag gedoen. Hier staan ek by die Kremlin in die land van die 'Rooi Gevaar' en luister na die ou volkslied. Die trane in my oë was nie net van die sneeureën nie."
Toe die joernalistegroep na Frankryk vertrek het, het hy agtergebly en op 'n heerlike storie afgekom van die Afrikaans-departement by 'n universiteit twee blokke van die Kremlin af waar Russiese studente Afrikaans geleer het.
Later het by Die Burger gaan werk. Die koerant het hom in 2008 na George gestuur. "Ek wou aanvanklik glad nie hier wees nie. Die ooreenkoms was dat dit net vir twee jaar sou wees, maar nou wil ek nie padgee nie."
Begin vanjaar het hy begin om vryskutwerk te doen vir verskeie publikasies waaronder die George Herald, Landbouweekblad, Die Son en Maroela Media.
"Ek het 'n passie vir die joernalistiek. Dis my hele lewe. Jy ontmoet die interessantste mense en kom op plekke wat jy waarskynlik nie andersins sou sien nie. Ek voel dieselfde as 'n oudkollega wat gesê het dis so lekker, ek kan nie glo hulle betaal ons daarvoor nie. Maar jy moet maar 'n dikkerige vel hê. Ek het gou geleer jy is almal se vriend, en almal se vyand.
"Tog is mense is die rede hoekom ek hier is. Elkeen het 'n storie. Jy beleef hulle vreugde en hulle hartseer. Ek het die Westdene- en Reenendal-busrampe beleef. Dit was 1 000km uit mekaar, maar daar was baie parallelle - die kinders wat verdrink het, die ouers se verskriklike hartseer. Dit was baie roerend. Die brande in Knysna het my ook baie geraak."
In die begindae van sy joernalistieke loopbaan by Die Vaderland het hy beleef hoe dit voel om agter tralies te beland. Hy en 'n kollega het Gaberone in Botswana besoek om verslag vir Die Vaderland te doen oor die destydse weermag se aanval op ANC-teikens. Die land se veiligheidspolisie het hulle aangekeer en hulle is afsonderlik langer as 24 uur saam met misdadigers aangehou. Een van die eerste dinge wat die ander mense in die tronksel vir hom gesê het, was, "Food very bad here."
Een van Gunning se groot rolmodelle oor wie hy al baie geskryf het, is die rugbyspeler CJ Stander. Hy kom oorspronklik van die Suid-Kaap en sy ouers woon nog steeds hier. "Destyds is vir hom gesê hy is te klein vir Suid-Afrikaanse rugby, maar hy het nie tou opgegooi nie. Hy is Ierland toe waar hy een van hulle topspelers geword het. Hy het gewys dat jy jou drome moet navolg. Moenie toelaat dat iemand in jou pad staan en sê dis onmoontlik nie."
Gunning lees graag, en dan veral biografieë en outobiografieë. Om met sy hond Oortjies langs die see te stap en die mooi omgewing van die Tuinroete, is ook van die dinge wat hom baie gelukkig maak. Hy versamel ook aalwyne.
"Ek dink nie mense in George besef hoe bevoorreg hulle is om hier te woon nie. Hulle het die beste van twee wêrelde - dis 'n dorp, maar ook 'n stad met goeie infrastruktuur en pragtige natuurskoon, berge en die see."
Sy hart klop ook warm vir Suid-Afrika se sportspanne en hy raak baie opgewonde wanneer hulle presteer.
Oor sy nuwe verbintenis met die George Herald, is sy kommentaar: "Ek sê altyd gemeenskapskoerante is soos die dorpsplein van 'n dorp of stad - dis waar mense bymekaarkom en nuus uitruil en gesels. Dis wonderlik om deel te wees daarvan."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'