Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Vir duisende landsburgers is dit vanself-sprekend om tydens verkiesings na 'n stemlokaal te gaan en hul kruisies te gaan trek. Vir dié met gestremdhede is daar egter bepaalde uitdagings.
Die uitdagings waarmee mense met gestremdhede te doen kry, het juis verlede Donderdag, 23 Maart, opnuut na vore gekom tydens 'n geleentheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en lede van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD).
Die geleentheid is by die Pacaltsdorpgemeenskapsaal gehou en is deur sowat 25 belanghebbendes bygewoon.
Groot opgewondenheid het geheers. 'n Plaaslike sanger, Wimpee Williams, het opgetree.
Die bekende Anthony Noble, 'n kunstenaar van George, het sommer daar in die saal 'n skildery gemaak en so 'n paar belangrike lewenslesse oorgedra. Hy het onder meer gesê as iemand donkerte beleef is dit 'n geleentheid vir die lig om deur te breek.
VIDEO: Man skilder en dra boodskap oor
Ircia Michaels van die OVK in George het gesê by die geleentheid word gestremdes se gestremdhede nie raakgesien nie.
VIDEO: OVK reik uit
Glen Fortuin van die APD het gesê die instansie is daar om te help dat die stem van gestremdes gehoor kan word.
Keith Muller, hoof van die OVK in George, het gesê die Grondwet waarborg dat almal gelyk is. Dit maak nie saak wie jy is of hoe jy lyk nie. Almal is geregtig op menswaardigheid. Elkeen kan stem vir hul eie politieke keuse, maar jy kan slegs stem as jy as 'n kieser geregistreer is.
Die datum vir aanstaande jaar se verkiesing is nog nie bekend nie, maar ter wille van beplanning word gewerk van die veronderstelling dat dit iewers in Mei 2024 sal wees.
Muller het gesê dit gaan 'n baie belangrike en geskiedkundige verkiesing wees. Dit sal die eerste keer wees dat onafhanklike kandidate aan die nasionale en provinsiale verkiesing mag deelneem. Dit sal beteken dat kiesers drie stembriewe ontvang in plaas van die gewone twee.
Dit is dus moontlik dat 'n onafhanklike kandidaat of selfs kandidate tot die parlement verkies word.
VIDEO: Sanger sing by OVK uitreik
Glen Fortuin (links) van die APD, Keith Muller, hoof van die OVK George, Anthony Noble, kunstenaar,,Wimpee Williams, 'n sangkunstenaar en Ircia Michaels van die OVK in George.
Die skildery wat Anthony Noble gemaak het.
Aanwesiges luister na 'n voorlegging van Keith Muller, hoof van die OVK in George. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’