GEORGE NUUS - Ofskoon die 100-jarige feesvieringe van George se eie Hoërskool Outeniqua byna verby is, is dit nog nie heeltemal iets van die verlede nie.
Enkele aktiwiteite moet nog plaasvind en as 'n direkte uitvloeisel van die vieringe word groot saamtrekke vir die toekoms beplan om die momentum wat deur die vieringe ontstaan het, te behou.
Die Kwagga 100 Run vind Vrydagaand, 15 September, om 18:00 vanaf die skoolterrein plaas en daar is geleentheid vir belangstellendes om aan 5 km- en 10 km-wedlope deel te neem.
Kwagga Fiësta sal in Oktober plaasvind en neem die formaat van 'n groot wynproe aan. Die duiwewedvlug, Kwagga-gholfdag, geesweek, die Kwagga Top-10-atletiekbyeenkoms en enkele afsluitingsfunksies moet ook nog plaasvind.
Dit was 'n besige feesjaar en meer as 45 funksies en aktiwiteite het reeds plaasgevind. Duisende oudleerlinge en ouers en honderde oudonderwysers en onderwysers het reeds die feesvieringe bygewoon.
Chris Hattingh, adjunkhoof en feesdirekteur, het Maandag 11 September gesê vanuit die staanspoor is besluit om dit 'n regdeur-die-jaar-fees te maak eerder as 'n enkele feesnaweek. So kon verseker word dat verskeie mense by die fees betrokke is. Die duisende oudleerlinge en oudonderwysers wat dit bygewoon het, wys dat dit die regte besluit was.
Hy het reeds in 2022 aan die feesprogram begin beplan. Die fokus was om 'n weerspieëling te gee van die skool se breë aktiwiteite en betrokkenheid.
Daar was talle hoogtepunte soos onder meer sportgeleenthede, kultuurgeleenthede, en die gala-aand wat op 28 Julie plaasgevind het. Tydens die geleentheid was van die skool se bekendste oudleerders soos Emsie Schoeman, Gert van Tonder, Demi-Leigh Tebow, Hannele Steyn, Elroy Gelant en Johan Heunis teenwoordig, asook agt professore, 17 ander internasionale sportsterre, bekende skrywers, TV-persoonlikhede, briljante sakemanne en van die top besturende direkteure van die grootste Suid-Afrikaanse maatskappye.
Hattingh het gesê dat die feesvieringe 'n groot sukses was. Die uitdaging is nou om die opgewondenheid wat oor die skool met die feesvieringe ontstaan het, te behou. Die beplanning en fondsinsamelings vir die aanbou van die Eeufeessentrum is in die finale fase en enige verdere skenkings en bydraes is baie welkom.
Talle lesse, soos spanwerk, verhoudingsbou, harde werk en aanpasbaarheid is met die vieringe geleer – almal verwant aan die by op die skoolwapen. Die waarde van ‘n ondersteunende sakegemeenskap, oudleerderkorps en ouergemeenskap is opnuut besef. Die grootste les was egter om opreg dankbaar te wees.
Die Hoërskool Outeniqua is na ‘n eeu steeds ‘n helder ligbaken in die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’