GEORGE NUUS - Die Vriende van die Tolhuis het op Vrydag 3 November 'n erkenningsaand gehou vir Chris Lamprecht, een van die land se grootste musiekgeeste.
Die aand is ingelei met sjerrie terwyl konsertina- en kitaarmusiek die tolhuis gevul het met Afrikaanse volksliedjies.
Prof. Chris Lamprecht het die verhaal vertel wat sy inspirasie was vir die skryf van die Togliedjie en daarna het Olga Schoeman (harp) en Lida de Villiers (sopraan) dit uitgevoer.
Twee jongelinge, Emma en Simoné Visser het die Dansliedjie gesing en gedans, 'n lied wat deur Lamprecht se ma geskryf is.
Die Vriende van die Tolhuis-oorkonde is daarna aan Lamprecht oorhandig waarna gaste vir die aand aan heerlike sop en plaasvars brood gesmul het.
Emma en Simoné Visser het harte gesteel met hulle optrede.
Die aand het 'n onverwagte wending geneem toe die gehoor spontaan begin saam sing het aan die verskeidenheid volksliedjies.
Gerda Stols (links) van die Vriende van die Tolhuis saam met die Lamprecht-egpaar, Chris en Elsa.
Op versoek het Lamprecht en sy gesin ook van sy bekendste volksliedjies soos Kolperd en Boetie sy's n perskeblom gesing en later die aand het almal saam die Magaliesbergse Aandlied en die Aandgesang gesing.
Die aand is afgesluit met die seënbede vir Lamprecht en sy gesin en warm boeretroos en koeksisters daarna. Almal was dit eens dat dit 'n onvergeetlike aand was en 'n groot voorreg om vir Lamprecht (90) in lewende lywe te kon ontmoet.
Braai by rolbalklub Vrydagaand
Die Vriende het eerskomende Vrydagaand, 10 November om 18:30 'n groot geldinsameling in die vorm van 'n braai by die Outeniqua-rolbalklub.
Kaartjies kan by Gerda Stols bespreek word by 083 772 8252.
Lida de Villiers lewer 'n nommertjie.
Dit belowe om 'n gesellige en vreugdevolle aand te wees met heerlike kos en musiek deur die Eden Minstrels.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'