GEORGE NUUS - 'n Groot eer het Kathy Whitehead, 'n joernalis van Wilderness, wat betrokke is by 'n televisiestasie in Afghanistan, te beurt geval.
Sy was vroeër vandeesmaand 'n genooide spreker by 'n internasionale konferensie wat deur die Asia Pacific Broadcasting Global News Forum in Delhi, Indië aangebied is.
Die konferensie is deur tussen 150 en 200 afgevaardigdes vanoor die wêreld bygewoon. Whitehead was die enigste afgevaardigde van Afrika. Die tema was, 'Truth and trust in times of crisis'.
Whitehead, 'n ervare joernalis met meer as 30 jaar ervaring in die beroep, het ook aan paneelbesprekings deelgeneem saam met verteenwoordigers van groot internasionale nuusgroepe is.
Sy was onder meer redakteur, subredakteur ,persfotograaf en joernalis. Sy het gesien hoe geskiedenis gemaak word en was onder meer by die Victor Verster-gevangenis in die Paarl toe wyle pres. Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 vrygelaat is.
In 'n stadium het sy in Hong Kong by die South China Morning Post gewerk voordat sy terug is na City Press, Rapport en Beeld.
Whitehead was van April 2015 tot Junie 2020 by die televisiestasie in Afghanistan betrokke. Sy het toe vir 'n paar maande van die jaar daar gewerk en vir tye vir tuisverlof na Suid-Afrika teruggekeer. Sy het daarna permanent na Suid-Afrika teruggekeer. Sedertdien werk sy uit Wilderness per rekenaar by die televisiestasie.
Tydens die konferensie het Whitehead haar ervarings en belewenisse in die meer as vyf jaar wat sy in Afghanistan was, met afgevaardigdes gedeel.
Volgens haar was dit 'n groot eer om daaraan te kon deelneem. Sy kon haar ervarings eerstehandse deel en dit in herinnering roep. Dit was nie altyd maklik nie, want in die tyd wat sy in Afghanistan was, is 10 van haar kollegas in die oorlog dood.
Sy het gesê die konferensie was baie intens en indringende vrae is gevra. Van die vrae wat deur afgevaardigdes gevra is, was onder meer: Hoe stel mense die feite vas in so 'n baie vloeibare situasie? Hoe weet mens wanneer is genoeg genoeg en moet 'n joernalis onttrek omdat dit te gevaarlik is? Hoe hanteer joernaliste sulke situasies sielkundig?
Tydens haar verblyf in Afghanistan het sy doodsdreigemente ontvang en dit was nie aldag maklik nie. Sy het egter geen twyfel dat sy dit beslis weer sal doen nie.
Uit die aard van haar werk het sy steeds kontak met mense daar. Sedert die Taliban op 15 Augustus 2021 die mag oorgeneem het, het dinge verander. "Ek weet dit gaan sleg daar. Daar is byvoorbeeld geen persvryheid nie."
Kathy Whitehead tydens die geleentheid in Delhi, Indië. Sy sit voor regs.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'