GEORGE NUUS - Grondbesetting in 'n beboste area tussen Ou-Pacaltsdorp en die agterkant van Thembalethu is steeds goed op dreef.
Nabygeleë inwoners van Andersonville, New Dawn Park en ander dele van Pacaltsdorp het sedert die begin van grendeltyd gemerk dat onwettige ontwikkeling in dié area, wat vanuit hul woongebiede sigbaar is, met rasse skrede groei. Bosse word afgebrand, grond word voorberei en dan volg die bouwerk.
Hierdie tendens strook met kommentaar van die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, oor die onderwerp. Simmers het by navraag gesê hy is "diep bekommerd" oor die onlangse skerp styging in pogings om grond regoor die Wes-Kaap onwettig te beset.
"Sedert my aanstelling in Mei 2019, word ek gekonfronteer met baie pogings van verskillende groepe om grond, wat vir die ontwikkeling van menslike nedersettings geïdentifiseer is, onwettig te beset," het Simmers gesê.
"In sommige gevalle word daar selfs gepoog om voltooide huise te vandaliseer of te beset."
'n Uitkykpunt vanuit New Dawn Park oor bouery oorkant die kloof, aan die agterkant van Thembalethu. Foto's: Michelle Pienaar
Vandalisme en besetting
Volgens Simmers lei hierdie onwettige optrede tot 'n vertraging in die proses om huise aan begunstigdes te oorhandig, aangesien skade aan eenhede reggemaak moet word en onwettige grondbesetters verwyder moet word. "In albei gevalle [grondbesetting en die besetting van eiendom] kan dit baie lank duur en ook teen hoë kostes. Dit beteken dat persone wat tans vir 'n behuisingsgeleentheid wag, baie langer sal wag," het Simmers gesê. "Dit gaan nie toegelaat of geduld word nie, veral nie ten koste van ander nie."
Die provinsiale departement van menslike nedersettings is daartoe verbind om veral bejaardes, persone met gestremdhede, agterplaasbewoners en diegene wat al 15 jaar op die waglys is, eerste 'n geleentheid te gee.
Simmers doen 'n beroep op almal met 'n werklike behuisingsbehoefte, om te verseker dat hulle op die behuisingswaglys geregistreer is, en indien hulle reeds geregistreer is, om hul inligting op te dateer of te verifieer.
"Dit is ook belangrik om geduldig te wees," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'