GEORGE NUUS - Pieter Koen (84) se welige groentetuin by Meyerstraat 95, waar hy en sy vrou, Rina (83) al 54 jaar woon, het 'n baken in die Bergsig-woonbuurt geword.
Maar 'n nuwe era breek nou vir hulle aan wanneer hulle in die volgende paar maande na hul dogter Ronel Lewis, in Mpumalanga verhuis.
Die Koens se huis is onlangs van die hand gesit en hulle nuwe tuiste is 'n woonstel op Lewis se plaas tussen Delmas en Devon. "Ek gaan nog groente plant, maar op kleiner skaal, want my kragte is nie meer wat dit was nie," vertel Pieter.
Rina dra altyd tee aan as hy so in die tuin werk. Daar op die plaas is die tuintjie 'n bietjie ver van die woonstel af en sal sy dit nie kan doen nie. Sy sukkel om te loop ná twee knievervangings.
Pieter is bewoë, want hulle is diep gewortel in George en hulle laat dierbare vriende en gawe bure hier agter.
Pieter met twee reuse patats uit sy tuin.
Onder die toring van die NG kerk Bergsig, wat oorkant die pad pryk, het hy oor die jare talle oeste uit die grond gehaal. "Dit vra net geduld wanneer dit nie reën nie en liefde vir die grond," sê hy.
Rina is knap met inlê. Daar pryk rye gebottelde groente en vrugte in die spens-kas. Sy bly ook besig met breiwerk.
Die egpaar is getroud toe hy 29 en sy 28 was.
Hulle het in Meadestraat gewoon voordat hulle na Meyerstaat verhuis het. In hierdie huis het hulle hul twee dogters (hul ander dogter, Sanmarie Koen, woon in George) grootgemaak.
Pieter het op 'n plaas by Sinksabrug grootgeword en later by die staatsaagmeule in George gewerk. Op 55 is hy na 'n voermaatskappy waar hy 10 jaar later afgetree het.
Rina is 'n plaasnooi van die Paarl-omgewing wat later in Riebeek-Wes by 'n kinderkoshuis gewerk het. Die twee het deur Rina se suster ontmoet. Nou is hulle al 57 jaar getroud, en gelukkig kan hulle hand-aan-hand die oorweldigende stap neem om hulle wortels daar ver te gaan verplant.
Pieter en Rina Koen gaan hul wortels uittrek by hul tuiste van 54 jaar in Meyerstraat waar Pieter se groentetuin al 'n baken geword het. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'