Sy is in 1911 oorkant die berg in Heimersrivier gebore in 'n familie waarvan 'n klompie voorsate hoë ouderdomme gehaal het, onder andere haar oumagrootjie wat oorlede is op 102 en haar ma wat 96 jaar gehaal het.
Grace was nog vroeër in die jaar aktief en het selfs in haar klein tuintjie in die Bergville-aftreeoord, waar sy nou al 10 jaar woon, gevroetel. Maar haar gesondheid het weens 'n beroerte 'n terugslag gehad en sy het haar spraak verloor. Sy moet nou noodgewonge met 'n pen en papier kommunikeer en sy kom oor die weg met 'n loopring.
Dit keer egter nie dat sy nog vir stappies op die gronde van die aftreeoord saam met haar versorger, Nakkie Williams gaan nie. Die borrelende Nakkie is al 'n paar dekades in die ou dame se diens en die twee is geheg aan mekaar. Een van Nakkie se dogters is na haar werkgewer vernoem. Grace se seun Morris (73) en 'n kleindogter Carla (50) uit Nederland het spesiaal gekom om vir 'n week lank by haar te kuier en die mylpaal saam met haar te vier.
Morris vertel sy ma is 'n boorling van Heimersrivier net anderkant die Outeniquaberg. Sy is mal oor blomme en haar groot voorliefde was tuinmaak. Sy was vir baie jare 'n aktiewe lid van die Vroue Landbouvereniging en is later as erelid benoem. Haar huis is 'n huislike en kleurvolle plek met familiefoto's teen die mure en ander soeweniers wat deur die jare versamel is en getuig van 'n vol lewe.
Grace was nog haar hele lewe 'n voorstander van gesonde eetgewoontes en sy't nooit gerook nie. Morris sê sy is ook baie gelowig en verwaarloos nie haar daaglikse gebed nie.
Hoewel sy mal was oor TV, kyk sy nie nou meer nie, maar sy lees darem nog 'n bietjie.
Haar eerste man is in 1981 op 85-jarige ouderdom oorlede en sy is weer getroud met die bekende Herbie Seale wat onder meer die Seale's Inn Hotel op Heroldsbaai besit het.
Sy het mooi herinneringe van die dae toe hulle daar gewoon het. Ons het my ma vir 'n draaitjie deur Heroldsbaai geneem om hulle ou woonadres en geboue wat my stiefpa besit het, op te soek. Dit was vir haar lekker om dit als weer te sien," vertel Morris.
Hy sê haar grootste geskenk op haar verjaardag was die besoekies van ander mense.
Twee van Grace se kinders is al oorlede. Benewens vir Morris, het sy nog 'n dogter in Rustenburg en een in Harare, Zimbabwe, nege kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Grace saam met haar seun Morris en kleindogter, Carla wat albei van Nederland af vir haar verjaardag kom kuier het.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS