TUINROETE NUUS - Vier verdagtes in 'n minibustaxi onderweg van Plettenbergbaai na George, is op Maandag 26 Julie met na beraming 164 kg koper in hul besit vasgetrek.
Die verdagtes, waarvan een glo 'n voormalige staatsaanklaer van George is, is naby Plettenbergbaai deur lede van die Eden-gebiedsgroep se misdaadbestrydingspan in hegtenis geneem ná die Toyota Quantum-bussie waarin hulle gery het omstreeks 19:30 by 'n padblokkade afgetrek is.
"Twee houers met koper en 'n slotbreker (bolt cutter) is in die voertuig gevind. Daar is beslaggelê op die items en die bestuurder van die voertuig, sowel as drie passasiers, is op die toneel in hegtenis geneem," sê Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie.
Die viertal, almal tussen die ouderdomme van 31 en 47, was geskeduleer om Woensdag 28 Julie in die landdroshof in Plettenbergbaai te verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Teen druktyd was daar geen verdere inligting rakende hul hofverskyning nie.
Die slotbreker wat in die bussie gevind is, is ook gekonfiskeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'