GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het die jaarlikse verhoging van die Go George-bustariewe vanaf 1 Julie bekendgemaak.
Hierdie verhoging is deel van die jaarlikse munisipale tariefaanpassings.
Bondels steeds die beste koop
Slimkaartritte wat in bondels van 10 of meer gekoop word, sal met slegs 90c per rit verhoog na R11,90 en bondels van minder as 10 ritte sal R13,20 per rit kos ('n 95c-verhoging).
Die prys van enkelritte verhoog met R1 na R16 om passasiers aan te moedig om liewer die goedkoper ritte te koop en om lang rye elke paar dae te vermy.
Die bondels van 10 ritte en meer bly die beste koop en 'n passasier wat vyf dae per week werk of skool toe en terug huis toe ry, kan R180 per maand in vervoeruitgawes spaar, vergeleke met enkelritte wat op die kaart gelaai word.
Gratis ritte vir eerstekaartkopers
Die prys van die slimkaart is R27 vir kopers van hul eerste kaart wat twee gratis, voorafgelaaide ritte op die kaart insluit indien hulle 'n geldige bewys van identiteit toon. Nuwe kaarte en vervangingskaarte kos R35.
Gebruik bestaande slimkaarte
Passasiers word aangemoedig om hul bestaande kaarte te gebruik om ritte op te laai en nie onnodig nuwe kaarte aan te koop as hulle dit nie nodig het nie. Soortgelyk aan bankkaarte, verval slimkaarte vyf jaar nadat dit deur die bank uitgereik is.
Werk om beurtkrag
Om die impak van beurtkrag te bekamp, word passasiers aangeraai om hul slimkaarte te herlaai wanneer hulle naby werkende herlaaipunte is, voordat hul ritte opraak.
Vir meer inligting, skakel die Go George-inbelsentrum by 0800 044 044, of stuur 'n e-pos na info@gogeorge.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’