GEORGE NUUS - Een van George se gewildste vermaaklikheidsplekke, Let's Go Bowling, by Mountain View Resort in Yorkstraat, het finaal sy deure gesluit.
Dit is Dinsdag 15 September deur Gerald Paluzzi, direkteur van Let's Go Bowling, bevestig. Ofskoon daar reeds op Vrydag 28 Augustus aanduidings was dat hy gaan sluit, is pogings steeds aangewend om sy deure oop te hou.
Paluzzi het by navraag gesê verskeie pogings is aangewend om weer oop te maak en daar was onder meer die afgelope Maandag, 14 September, weer gesprekke met die geboueienaar, Frik Labuschagne. "Ongelukkig kon ons nie tot 'n vergelyk kom nie. Dit is nie lewensvatbaar nie. Ek beskou die saak as afgehandel."
Hy berus by wat gebeur het. "Daar is nie veel wat mens kan doen nie. Ek het begrip vir mense wat betrokke is in sulke situasies soos byvoorbeeld geboueienaars."
Volgens hom is die sluiting 'n direkte gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls. Dit was sedert die inperking in Maart begin het, tydelik gesluit en die plan was om dit weer later oop te stel.
Aanvanklik het hulle gedink dit sou net vir drie maande wees, maar dit het toe langer geword. Sedert 1 September sou hulle weer kon oopmaak, maar dan net met 50% kapasiteit. Dit sou nie volhoubaar wees nie.
In George moes 20 personeel noodge-dwonge afgelê word. Dit is egter nie net die 20 mense wat geraak word nie, maar ook hul families en verskaffers van dienste aan die onderneming.
Volgens hom was die kegelbaan baie gewild en jaarliks het sowat 70 000 mense daar kom speel. Dit was veral gewild in die Desember-, April- en Junie/Julie-vakansies. Dit was ook 'n gewilde plek vir families en besigheidsmense wat soms spanbougeleenthede daar gehou het.
Paluzzi het Let's Go Bowling in Oktober 2010 saam met sy eggenoot, Marietjie, begin. Daar was agt bane en dit was 'n eerste vir George en enig in sy soort in die Suid-Kaap. Hy is al sedert 1976 in die bedryf betrokke en het nog belange in soortgelyke bane in Pretoria en die Kaap.
Oor die jare was die onderneming in George suksesvol en volhoubaar. Hulle het ook baie teruggeploeg in die gemeenskap.
Oor die toekoms het hy gesê daar is beslis behoefte vir so-iets in die Suid-Kaap en hy hoop dat 'n soortgelyke onderneming weer later deure sal oopmaak. Dit is 'n gespesialiseerde soort bedryf en mense wat betrokke raak moet die besigheid verstaan.
Labuschagne, eienaar van Mountain View Resort, het gesê die inperking het sy tol geëis. "Ek beskou die saak as afgehandel en ek gaan geen verdere kommentaar lewer nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'