GEORGE NUUS - Wat blyk om 'n misverstand te wees tydens 'n padblokkade op Vrydag 13 November tussen Conville en Thembalethu het traumatiese gevolge vir JP Williams van Borcherds en sy passasiers gehad.
"Dit was so net na 21:00. Ons was op pad huis toe van Pacaltsdorp af toe ons by 'n padblokkade in Nelson Mandela-boulevard tussen die Thembalethu-brug en Conville in die rigting van Parkdene deur provinsiale verkeer afgetrek word. Na 'n roetine inspeksie het die beampte my uit die kar geroep en daarop gewys dat daar fout was met my nommerplate.
"Ons het agter die kar gestaan toe ons skielik iets hoor wat soos 'n geweerskoot klink. Dit het vanuit Thembalethu se rigting gekom. Die beampte wat by ons was het sy vuurwapen uitgehaal, oorgehaal en in die rigting gestap vanwaar die geluid gekom het en vir my gesê ek kan maar ry," vertel Williams.
Volgens Williams was hy besig om in sy voertuig te klim toe een van die ander verkeersbeamptes op die toneel met 'n vuurwapen op hulle afstorm.
"Hy het gedink die skote het uit ons voertuig gekom en het die vuurwapen op ons gerig en begin skree. My suster, wat langs my gesit het, het in trane uitgebars. Dit was vir haar vreeslik traumaties," sê Williams.
Volgens Williams het die beampte wat hulle aanvanklik afgetrek het tussenbeide getree en vir sy kollega verduidelik dat hy hulle toestemming gegee het om te ry.
Departement van vervoer antwoord
In 'n antwoord op 'n navraag oor die voorval verduidelik Jandré Bakker, woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, hoe 'n ander beampte op die toneel onder die indruk was dat die skoot uit Williams se voertuig, 'n wit VW Golf, afgevuur is.
Hy het ook bevestig dat die oorsprong van die beweerde skoot steeds onbekend is.
"Beampte A was besig om 'n waarskuwing uit te reik terwyl sy kollega, Beampte B, met 'n wit VW Golf besig was toe die skoot afgevuur is. Beampte A het opgekyk, nie vir Beampte B gesien nie en die wit VW Golf sien wegtrek. Hy was onder die indruk dat die skoot moontlik uit die Golf afgevuur was en het bloot prosedure gevolg," sê Bakker.
Volgens Bakker het die offisier toe sy wapen uitgehaal en die bestuurder van die Golf opdrag gegee om te stop. Hy sê ook dat die offisier nooit sy wapen hoër as 45 grade gelig het óf op die ander insittendes gerig het nie.
"Die bestuurder het dadelik gestop. Toe die voertuig stilhou het Beampte A eers vir Beampte B raakgesien en sy wapen weggesit. Die bestuurder van die Golf is daarna toegelaat om verder te ry," sê Bakker.
Suid-Kaap-polisie
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat 'n klag by die polisie aanhangig gemaak is. "Daar word beweer dat die 20-jarige slagoffer op 13 November omstreeks 21:15 in die rigting van Lawaaikamp gery het toe hy deur 'n verkeersbeampte by die brug voorgekeer is.
Ná 'n gesprek met die verkeersbeampte is die bestuurder toestemming gegee om te ry waarna 'n ander beampte sy voertuig glo met 'n vuurwapen genader het. 'n Saak vir die rig van 'n vuurwapen is geopen vir verdere ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'