Tientalle motoriste ry daagliks onwettig veral oor die geel geverfde eiland voor die PreCap-sentrum in Courtenaystraat. Verskeie klagtes van die publiek oor dié oortredings, deur motoriste wat regs indraai by die parkeerarea by Pick n Pay wanneer hulle in die rigting van Yorkstraat ry, het die plaaslike verkeersowerheid genoodsaak om hul wetstoepassing daar te verskerp.
Maar selfs dit gaan nie te goed af nie en sommige motoriste raak vuurwarm onder die kraag as hulle daarop gewys word.
Die George Herald het die afgelope twee weke verskeie kere gaan ondersoek instel en die area saam met die verkeersafdeling besoek. Tydens die besoek het motoriste sonder om te wik of te weeg oor die eiland gery terwyl daar ander was wat, sodra hulle die manne in blou gewaar het, sommer weer voor die verkeer ingedraai en aangery het.
'n Superintendent by verkeer, Donovan Saptoe, het verduidelik dat die situasie uiters gevaarlik is weens die getal voertuie wat op daardie pad ry, om nie eers te praat van die verkeersvolume wat met die komende feesseisoen verwag word nie.
Hy sê die doel van enige geverfde eiland is om die verkeer en die vloei daarvan te reguleer.
"Artikel 58 (1) van die wet maak dit 'n ver-keersoortreding om oor enige gedeelte van 'n geverfde eiland met 'n motorvoertuig te ry. Met ander woorde sou 'n motoris beweeg vanaf Wilderness in die rigting van Pick n Pay kan hy/sy nie regs draai oor 'n geverfde eiland nie."
Saptoe meen ook dat die oortreders in die minderheid is en die meeste motoriste veilige padgebruikers is.
Jurisdiksie van beamptes
Na aanleiding van 'n onlangse artikel in die George Herald oor 'n vrou wat 'n onderonsie met verkeersbeamptes in die parkeerarea by Pick n Pay gehad het, het baie vrae ontstaan oor die jurisdiksie van beamptes. Veral nadat die raadslid vir gemeenskapsveiligheid, Iona Kritzinger, glo gesê het dat verkeersbeamptes nie jurisdiksie in die parkeerareas het nie.
Saptoe sê egter dat Pick n Pay se parkeerarea openbaar is en dat beamptes wel daar mag optree. Sou dit egter omhein wees en 'n valhek hê, sou dit beskou word as privaat eiendom.
"Geen verkeersbeampte het jurisdiksie op privaat eiendom nie. Dit maak egter 'n verskil waar die oortreding gepleeg is. Die definisie van 'n openbare pad sluit in enige pad, straatdeurgang, of enige ander plek wat gewoonlik deur die publiek gebruik word of waartoe die publiek die reg van toegang het. Met ander woorde die parkeerarea by Pick en Pay of enige ander parkeerarea waartoe die publiek vrye toegang het, word geag in terme van die padverkeerswet 'n publieke pad te wees," sê Saptoe.
Verhewe eilande
Die situasie blyk nou die munisipaliteit te verplig om die eilande met randstene op te bou. Harold Basson, direkteur van die siviele ingenieursafdeling sê die uitleg van die geverfde eilande is korrek en sal so bly.
"Die eiland is tans geverf omdat dit meer koste-effektief is as die verhewe eilande soos in Yorkstraat. Om die geverfde eilande op te gradeer na verhewe-randsteeneilande is nou klaarblyklik noodsaaklik."
Basson sê die eilande in Courtenaystraat en Knysnaweg is daar om motoriste te help om veilig te bestuur en te help met die verkeersvloei.
"Die konstante verontagsaming van die verkeersreëls en -regulasies ten opsigte van die eilande deur motoriste het nou 'n punt bereik waar die padowerhede moet ingryp en verbeterde maatstawwe moet instel - geverfde eilande moet gelig word en randstene om kry om noodlottige ongelukke te voorkom."
Hy het ook verduidelik dat 'n verkeersimpakstudie wat in 2009 gedoen is, toon dat die PreCap-winkelsentrum tydens spitstyd meer as 250 voertuie lok en daarom word die toegangsweg gesien as 'n openbare pad.
Basson noem ook dat die afstand vanaf die voorafgaande kruising nie volgens die provinsiale administrasie se padtoegangsriglyne volle toegang tot die winkelsentrum toelaat nie. Volle toegang (na links en regs) word slegs toegelaat op 'n minimum afstand van 90 m, en links-in en links-uit slegs op 75 m. Weens die winkelsentrum se toegang wat ongeveer 78 m van die voorafgaande verkeerslig (kruising by Steers) geleë is, voldoen dit nie aan die minimum spasie van 90 m vir volle toegang nie, en word slegs links-in en links-uit toegang toegelaat. Die afstand tussen inritte moet 100 m wees vir volle toegang (na links en regs) en 62 m vir links-in en links-uit.
Die in- en uitgang by PreCap is slegs 35 m uitmekaar en dit is toegelaat om die historiese karakter van George te akkommodeer.
Die plaaslike verkeersowerhede sê dis onwettig om by die parkeerarea by Pick n Pay in Courtenaystraat in te swaai (regs as jy uit die Wilderness-rigting kom) soos wat hierdie drie motors doen terwyl hulle op die geverfde eiland staan en daarvan 'n rybaan maak. Foto's: Lizette da Silva
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'