GEORGE NUUS - Met die bekende Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) wat Saterdag hier aangebied word, word daar gevra hoe gestremdvriendelik George is.
Uit gesprekke wat die George Herald met gestremdes en belanghebbendes gehad het, is dit duidelik dat daar die laaste paar jaar groot vordering gemaak is om die lewe vir gestremdes makliker te maak, maar daar is nog uitdagings.
Cyril Williams, stigter van Garden Route Access, het gesê dit gaan nie net oor toeganklikheid van openbare plekke nie. Dit gaan ook oor werksgeleenthede vir gestremdes.
Die organisasie, 'n nie-regeringsorganisasie, bestaan al byna 10 jaar en kyk na die belange van gestremdes. Dit dien onder meer as 'n waghondorganisasie vir gestremdes ten opsigte van toeganklikheid.
Volgens Williams word daar teen gestremdes gediskrimineer ten opsigte van byvoorbeeld werksgeleenthede en parkeergeriewe by geboue. Dit lyk of dit laag op die prioriteitslys van instansies is.
Gestremdes is nie net mense wat rolstoele gebruik nie, maar ook mense wat blind of doof is.
Hy het gesê daar moet in gedagte gehou word dat gestremdheid strek verder as net die sigbare. Na raming is daar meer as 1 500 mense in George wat met gestremdheid saamleef.
Die situasie rondom gestremdes begin by klein dingetjies in die samelewing. "Elke individu moet sensitief teenoor gestremdes wees."
Dorian Wesso, 'n blinde wat krieket speel swaai die kolf. Hy het Boland-krieket vir blindes gespeel.
Van die gestremdes staan hulle plek vol en neem aan sport deel. Hy is betrokke by die afrigting van krieket vir blindes.
Sanet Taljaard, 'n inwoner van George, het in 2010 'n rugbesering opgedoen terwyl sy in Engeland was. Deesdae gebruik sy 'n rolstoel om oor die weg te kom en kan ook motor bestuur.
Volgens haar maak die feit dat sy motor kan bestuur 'n verskil. Dit bied wel uitdagings. As sy 'n parkeerplek vir haar voertuig soek, moet sy kyk of daar genoeg spasie is dat die deur oop en toe kan maak om die rolstoel te kan gebruik. Wanneer sy by 'n winkelsentrum of 'n gebou stop moet sy ook kyk of dit 'n oprit het vir haar rolstoel.
Volgens haar is dit in die middedorp nogal moeilik. Die Garden Route Mall en van die winkels is toeganklik.
Soms bel sy van die winkels vooraf en hulle bring dan vir haar die produk na haar motor.
Haar ondervinding is dat mense in die algemeen geduldig is met gestremdes. Soms parkeer mense wel op toegewysde parkeerplekke vir gestremdes. Van haar vriendinne, wat ook van rolstoele gebruik maak, se grootste klagtes is dat mense op sulke toegewysde parkeerplekke stop.
Denelize Klein, 'n gestremde gee 'n bordjie kos aan 'n inwoner van Emmaüs.
By Laerskool George-Suid, waar haar kinders op skool is, word baie moeite gedoen om die terrein vir gestremdes toeganklik te maak. Dit is vir haar moontlik om haar kinders se onderwysers by die skool te besoek.
Sy glo in die algemeen is George gestremdvriendelik, maar daar is uitdagings. Van die sypaadjies is meer onlangs aangepas en dit help. Dit is sypaadjies soos Merriman- en Caledonstrate. Van die ouer sypaadjies is nie so gestremdvriendelik nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'