GEORGE NUUS - Onderkry bestaan nie in die woordeskat van twee gestremde stappers, Sean Snyman en Carl de Campos wat onlangs probeer het om George-piek uit te stap nie.
Hulle moes ongelukkig hul poging laat vaar as gevolg van slegte weer. De Campos is blind en Snyman het beperkte gebruik van sy regterarm as gevolg 'n ernstige ongeluk jare gelede.
Tydens die onlangse poging is geld ingesamel vir die Tuinroete DBV en die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC). Hulle wou ook bewustheid skep oor die moontlikhede waaroor mense met gestremdhede beskik.
Snyman, 'n lid van die George-stadsraad, het Maandag gesê hulle beplan reeds weer om teen die berg uit te stap. Dit is nou deel van iets groter en pogings om mense met gestremdhede aan te moedig om hul doelwitte na te streef.
Hulle gaan op 14 November deelneem aan 'n strandstap by Leentjiesklip, Wilderness. Die doel van die geleentheid is om geld in te samel vir 'n hulpapparaat vir 'n 15-jarige seun wat 'n diabeet is.
Volgens Snyman was daar na hulle onlangse poging teen die Outeniquaberg 'n stukkie goeie nuus. Die eienaars van Tiger Wheel & Tyre in George, Nico en Sandra van Rensburg het in George Herald van hul poging gelees.
"Hulle het gesien dat ons nie oor die regte rugsakke beskik en wou weet hoe hulle kan help. Ek het ons behoeftes aan hulle verduidelik en hulle het staptoerusting aan ons geskenk.
"Dit gaan verskriklik baie help en ons is baie dankbaar daarvoor," het Snyman gesê.
Nico het gesê hulle help graag. "Ons ploeg graag terug tot voordeel van die gemeenskap. Mense met gestremdhede lê ons na aan die hart."
Nico van Rensburg (links) en Sandra van Rensburg (heel regs) van Tiger Wheel & Tyre met die staptoerusting wat hulle aan Sean Snyman en Carl de Campos geskenk het. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'