Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die droom van 'n 18-jarige leerder van Carpe Diem om berg te klim, is bewaarheid danksy die samewerking van 'n groep wonderlike mense wat geen moeite ontsien het om hom tot by die kruis teen die Outeniquaberg op te neem nie.
Lindokuhle Bikani is rolstoelgebonde en dit was vir hom 'n buitengewone ervaring wat hy nie sal vergeet nie.
Die kruis teen die berg wat so mooi lyk het Lindokuhle nuuskierig gemaak.
"Ek wou graag gesien het hoe lyk dit daar bo. Ek het die kruis gesien en dit het mooi gelyk," vertel hy. Hy het toe ook sy 18de verjaarsdag (wat op 17 November was) saam met sy weldoeners by die kruis gevier.
Die uitstappie is moontlik gemaak nadat hy sy bergklimdroom met sy klasonderwyser gedeel het. Die fisioterapeut by die skool, Mareli Olen, is 'n vrywilliger van Outeniqua Trail Search and Rescue (OTSR) en toe sy daarvan te hore kom, het sy dit onder die hoof van die OTSR-span, Gee Swart, se aandag gebring.
Swart het gemeen dit was 'n uitvoerbare droom en die distrikshoof van Metro-redding, Richard Botha, gekontak wat dadelik gewillig was om te help. Kaapse Natuurbewaring, die departement onder wie se jurisdiksie die gebied val, het ook ingekoop op die idee.
Die reddingsmandjie het dit moontlik gemaak om Lindokuhle op te neem met die Outeniquaberg.
Vroegoggend op Maandag 27 November was almal aan die voet van die berg byeen. Hulle het Lindokuhle in 'n reddingsmandjie geplaas en hom per ambulans tot by die Sentech-toring geneem. 'n Wiel, nuwe toerusting van Metro-redding wat nog nie voorheen gebruik is nie, is onderaan die mandjie vasgemaak. Vandaar het die span hom ongeveer 700 meter verder opgeneem tot by die kruis.
Swart sê: "Dit was nogal senutergend op plekke want die pad is ongelyk en op plekke baie steil, maar Lindokuhle was die heeltyd veilig want al die draers is ervare ouens."
Padlangs het die beamptes van Natuur-bewaring met Lindokuhle gesels oor die plantegroei en blomme in die omgewing, waaronder Suid-Afrika se nasionale blom, die protea.
Riaaz Latief van MRREE Studios het foto's van die hele ekskursie geneem en 'n bekende plaaslike veldhardloper, Eddie Mouton, het saam geklim.
Lindokuhle in die reddingsmandjie kry eerstehandse ervaring van bergklim. Foto's: MRREE Studios
Lindokuhle sê: "Dit was baie lekker. Die ouens het met my gesels en gesê ek moenie bang wees nie. Ek was bietjie op my senuwees, maar ook opgewonde en toe ek daarbo kom, was ek bly. Ek kon die see van Mosselbaai, die lughawe en die hele George en Thembalethu sien. Dit was baie, baie mooi en baie, baie lekker."
Hy sê hy waardeer die moeite wat almal gedoen het om dit vir hom moontlik te maak.
Lindokuhle by die kruis.
Kyk na 'n video hier: https://fb.watch/oN7SJQMOPN/
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’