GEORGE NUUS - 'n Opvolgvergadering oor onopgeloste kwessies rakende Franken VGK Primêr, het nie afgeloop soos beplan nie. Van die betrokke rolspelers het nie op 16 Januarie, soos afgespreek, opgedaag nie.
In die eerste vergadering op 13 Januarie was dit duidelik dat gissings die gemeenskap rooi laat sien het. Blykbaar het kwessies soos die hernuwing van die kontrak tussen die skool en departement, bouwerk op die kerk se grond sonder toestemming, kragkabels vanaf die skool wat net aan sekere mense krag verskaf en die nuwe eienaar van die grond langs die skool wat nie 'n inwoner is nie, die mense briesend gehad.
Ds. David Elias en Theo Adams het nie opgedaag nie, en ook blykbaar niemand laat weet hoekom hulle nie teenwoordig sou wees nie, sê Millicent Merton, 'n woordvoerder van die departement van onderwys (WKOD).
George Herald het Elias en Adams genader. Adams sê hy was nie daar nie omdat hy steeds wag vir antwoorde van die WKOD, Eskom en George-munisipaliteit. Elias kon nie telefonies bereik word nie.
Merton sê die vergadering het wel voortgegaan sonder die twee rolspelers. "Die ander het kwessies bespreek wat die teken van die kontrak kan belemmer. Daar is nog nie op 'n nuwe datum vir die volgende vergadering besluit nie," sê Merton.
Sy sê tot alles uitgesorteer is, bly die skool oop tot 'n ooreenkoms tussen die verskillende partye bereik kan word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'