GEORGE NUUS - Die Evertse-gesin van Sierrissiestraat in New Dawnpark het omstreeks middernag Vrydag 1 Desember alles wat hulle besit, verloor toe hulle huis tot op die grond afgebrand het.
Gelukkig kon bure Jaundre (27), Jacob en Junely Evertse se seun, uit die vlamme in die huis red.
Hy was die enigste persoon tuis en het geslaap toe die brand uitgebreek het. Jacob Evertse het nagdiens gewerk en sy vrou het by haar dogter oornag wat 'n entjie verder op in die straat woon.
Volgens Evertse het bure gelukkig geweet Jaundre is in die huis, want hy het nie wakker geword toe die brand uitgebreek het nie. "Die bure kon nie die deure oopkry nie en het toe vensters stukkend geslaan. Hulle kon Jaundré gelukkig na veiligheid sleep."
Hy is in die hospitaal opgeneem en vir brandwonde aan sy nek, gesig, een voet en arms behandel, maar is dieselfde dag ontslaan.
"Ons weet nie hoe die brand ontstaan het nie, maar daar was 'n vol 9 kg-gassilinder in die huis en dit het ontplof en die brand verder aangeblaas," sê mnr. Evertse.
Niks het behoue gebly nie.
Die brandweer was op die toneel, maar kon nie keer dat die huis heeltemal afbrand nie.
Alles wat die Evertses opgebou en versamel het, is in 'n oogwink vernietig. Hulle woon al 18 jaar by hierdie adres.
Die huis was 'n HOP-huis, maar hulle het dit oor die jare gerieflik vir hulleself ingerig deur drie slaapkamers, 'n badkamer en kombuis aan te bou.
Die HOP-gedeelte was net hulle sitkamer. Nou het hulle niks. Al hulle huishoudelike toerusting is daarmee heen, saam met kruideniersware wat hulle tydens Black Friday gekoop het om te bêre.
"Ek is 'n volwasse man, maar het die naweek baie trane gestort. Dis 'n katastrofe. Ons het net die klere wat ons aangehad het, oorgehou," het hy Dinsdag aan George Herald gesê.
Die gesin se huis en inhoud was nie verseker nie. Hulle het intussen enkele skenkings ontvang, waaronder beddens en bedkassies, waarvoor hulle baie dankbaar is.
Theresa Jeyi, 'n raadslid wat die gesin besoek het, het 'n beroep gedoen op mede-inwoners om die gesin te ondersteun. "Terwyl ons dankbaar is dat daar geen lewensverlies was nie, is dit hartseer dat hulle alles so kort voor Kersfees verloor het. Laat ons ons harte vir hulle oopmaak in hierdie moeilike tyd.
"Enigiets, van klere tot kosvoorraad, sal 'n verskil maak. Kom ons bewys dat ons 'n gemeenskap van liefde en samewerking is deur hierdie gesin te help om weer hoop te vind te midde van die as en puin, " het Jeyi gesê.
Enigiemand wat wil uitreik, kan mnr. Evertse bel by 084 212 0148.
Die Evertses het hul HOP-huis oor die jare verander in 'n groter woonplek wat hulle alles Vrydag omstreeks middernag in 'n oogwink verloor het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’