Update
GEORGE NUUS - Hy was 'n hardwerkende persoon met 'n liefde vir die natuur. So word wyle Paul Gerber (55), die waarnemende direkteur van elektrotegniese dienste, deur sy familie beskryf.
Gerber het verlede Woensdag, 19 Augustus, aan vermoedelik 'n hartaanval gesterf. 'n Troosdiens het verlede Saterdag plaasgevind en sy familie beplan 'n privaat verassingsdiens.
Anel Gerber beskryf haar pa as iemand wat voluit geleef het, of dit nou langs die see, agter sy lessenaar of in die motorhuis onder die kar was.
"Hy was lief vir die natuur en het ook só sy geloof uitgeleef - langs die see met 'n visstok, in die Knysnabos met sy stapskoene of in die kano tussen die loeries," het sy gesê.
"Hy was 'n wonderlike voorbeeld hoe iemand met harde werk en deursettingsvermoë sy eie weg kan skep. My pa wou altyd meer leer en het gereeld sy kennis uitgebrei met allerlei boeke. Hy sal gemis word as 'n man, vader, vriend en kollega."
George-burgemeester, Leon van Wyk, het Gerber beskryf as 'n saggeaarde, opregte man wat toegewyd was aan sy werk en familie. "Hy sal erg gemis word. Ons gedagtes en gebede is by almal wat geraak word deur sy heengaan," het Van Wyk namens die George-raad gesê.
Charles Lubbe, waarnemende munisipale bestuurder, het namens die munisipaliteit en amptenary sy innige meegevoel aan Gerber se gesin en kollegas betuig.
Gerber word oorleef deur sy vrou, Annelise, sy dogter Anel en sy seuns Ian en Jaco.
Vorige artikel: Senior Municipal official dies after heart attack
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'