GEORGE NUUS - Oom Solly Rhode, een van Pacaltsdorp se bekendste kleinsakemanne en 'n toegewyde menseregte-aktivis, was nog aktief tot die dag voor sy dood op Donderdag 30 Desember. Hy was 92 jaar.
Volgens 'n susterskind, Joey Daniëls, het hy die dag voor sy dood nog oor die besige Beachweg na die winkelsentrum naby sy huis gestap.
"Hy het nog op sy eie gewoon. Vriende het 'n week voor sy dood by hom kom bly omdat daar inbrake in die omgewing was. Hulle was bekommerd oor hom," sê Daniëls.
Oom Solly was 'n kampvegter vir sy gemeenskap en het diep spore in Pacaltsdorp getrap. Hy is hier gebore en getoë.
"Oom Solly het skool ná standerd 6 verlaat om met 'n leerlingskap by mnr. McKay se kleremakersbesigheid begin. Ek dink die winkel was in die Eiland (Denneoord). Toe die Groepsgebiedewet ingestel is, moes die winkel na Marsktraat skuif," vertel Daniëls.
Oom Solly het later by Green & Shirley-kleremakers in Mosselbaai 'n pos aanvaar. Na 'n aantal jare het hy sy eie kleremakersbesigheid, Solly's Alterations, in Pacaltsdorp begin waar hy nie net vir die manne klere gemaak het nie, maar ook bekend geraak het as 'n betroubare raadgewer vir sy klante.
Toe sy mark groter raak, het hy na George uitgebrei waar hy 'n winkel agter die destydse Strydom en Jordaan oopgemaak het. Sy finale skuif was na die Millwood-gebou op die hoek van Victoria- en Yorkstraat.
Daar het hy sy besigheid bedryf tot in 2004 toe hy op 75-jarige ouderdom die tuig neergelê het.
Volgens Daniëls het Oom Solly sterk op sy beginsels gestaan en geglo in reg en geregtigheid. Waar hy kon, sou hy homself tekort doen om mense in nood te help.
"Hy het hom beywer vir die bevordering en vooruitgang van Pacaltsdorp en sy inwoners. Hy was die gemeenskap se go to man. Daar was altyd mense op sy stoep vir wie hy moes raad gee en as segsman optree."
Tydens die apartheidsbestel was Oom Solly 'n raadslid op die Pacaltsdorp-stadsraad en een van die vurige voorstanders vir Pacaltsdorp se onafhanklikheid omdat hy geglo het dat inlywing by George nie in die beste belang van sy geboorteplek sou wees nie.
Tot en met sy dood was hy nog 'n wykskomiteelid en die dag voor sy dood het hy besoek van mense gehad wat klagtes onder sy aandag wou bring.
Hy was saam met wyle Freddie Arries een van die dryfvere agter aksies om vir Pacaltsdorpers vrye toegang tot hul geliefde strand, Gwaingriviermond, te behou.
Oom Solly was ook 'n groot navolger van die Khoisan se gedragskodes en het dit deur sy lewenswyse getoon. Hy het gereeld hul byeenkomste, plaaslik en nasionaal, bygewoon en ondersteun. Hy was 'n uitstaande sportman en het uitgeblink in tennis, krieket en rugby. Hy was paaltjiewagter vir die Good Hope-krieketklub en het SWD-kleure verwerf.
Oom Solly was ook 'n toegewyde kerkman en een van die oudste lidmate van die Congregational Kerk.
Hy was musikaal aangelê en wanneer die familie Sondae bymekaargekom het, het hy en sy swaer, Joe Daniëls, saam gespeel - hy die kitaar en Joe sy trekklavier. Oom Solly kon ook viool speel en hy het in die kerkkoor en die kerk se mannekoor gesing.
Hy laat drie seuns, vier kleinkinders en een agterkleinkind agter. Sy dogter en eksvrou, Alida, is oorlede.
Oom Solly Rhode, tot op die laaste 'n kampvegter vir Pacaltsdorp en sy mense.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'