GEORGE NUUS - Georgiete se harte staan vir niks verkeerd nie. Hulle reik selfs uit oor provinsiale grense om klein JP Putter van Ermelo in Mpumalanga te help.
JP, nege maande oud, is met 'n gesplete lip en verhemelte gebore. Dit was 'n skok vir sy ouers Carina en Victor wie se mediese fonds net sekere prosedures dek. Chris Janse van Rensburg van George is 'n jare lange vriend van die familie.
Hy vertel JP sal moontlik tot agt operasies nodig hê en daar is blykbaar reeds R90 000 op mediese koste spandeer. Chris sê dit is hoekom hy na sy vriende uitgereik het om 'n fondsinsameling hier in George vir klein JP te hou.
"Almal het onmiddellik ja gesê nadat hulle van JP se hartseer storie gehoor het."
Tien plaaslike sangers gaan Vrydagaand,30 Augustus om 18:00 'n lekker optrede hou ten bate van die seun. Die funksie word gehou by die Four Brothers-aartappelstoor.
"Mense is welkom om hul eie koelsakke te bring en daar gaan ook verskeie kosstalletjies wees. Die koste is R50 per persoon en R20 vir pensioenarisse en kinders onder 15.
Kontak Chris by 060 714 9390 vir meer besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'