GEORGE NUUS - Andrew van Zyl van George het onlangs 'n besondere mylpaal behaal toe hy vir die 225ste keer bloed geskenk het. Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) oorhandig 'n spesiale sertifikaat aan bloedskenkers vir elke 25 skenkings.
Van Wyk is enkele jare gelede tot erelid van die WKB verklaar. Hy het in 1980 op 18-jarige ouderdom vir die eerste keer in Kimberley bloed geskenk.
Hy sê hy moes omtrent 21 keer in sy lewe oorslaan weens faktore buite sy beheer, maar as dit binne sy vermoë is, sorg hy dat hy elke twee maande sy skenking doen.
Toe hy eenkeer in Gqeberha was vir 'n kursus het hy baie ver gestap om by 'n bloedskenkingskliniek uit te kom sodat hy nie sy datum oorslaan nie. Hy het toe maar vir 'n geleentheid terug gevra.
Hy het sy eie onderneming en neem ook al sy personeel saam wanneer hy gaan skenk. Daar is net een persoon wat nie kan skenk nie.
Van Wyk sê die mense van die WKB in George is geweldig vriendelik en verwelkomend. "Ons voel soos BBP's wanneer ons daar aankom en dit is 'n gelag en grappies maak van begin tot einde."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'