GEORGE NUUS - Danksy Chris Meyer, motorfietstegnikus van Terry's Auto Clinic, wapper George se vlag ook by die uitdagende GS Trophy-motorfietswedren in Mongolië.
Meyer het vir drie jaar lank onverpoosd geoefen en voorberei om uiteindelik in die SA span ingesluit te word. Hierdie was 'n lewensideaal vir hom en hy kon sy vreugde kwalik bedwing toe hy as een van die drie spanlede gekies is.
Die spanne vanuit alle uithoeke van die wêreld ry uitsluitlik op BMW veeldoelige motorfietse wat spesiaal voorberei is vir die geweldige taai toets wat vanaf 1 tot 12 Junie oor van die mees onherbergsame terreine op aarde beslis word.
Behalwe die uitmergelende wedrenne is daar ook verskeie ander struikelblokke wat hulle moet oorkom en dit kan hulle net met vernuf en die regte keuses suksesvol oorkom.
Die SA span het onlangs sy voorbereiding naby Montagu afgesluit en hoop dat hulle gereed is vir die taai toets wat wag.
Meyer se ander twee spanmaats is Mark Dickinson en Eugene Fourie.
In 'n onderhoud, pas na sy insluiting in die span, het Meyer gesê dat dit vir baie jare lank sy ideaal was om Suid-Afrika in die GS Trophy-wedren te verteenwoordig. Hoewel hy jare gelede reeds begin het met sy voorbereiding het hy veral die laaste drie jaar baie hard gewerk om die span te haal.
"Ons weet dit gaan taai wees en alles uit ons haal, maar is opgewonde en voorbereid vir die uitdaging," het hy gesê.
Een van die kragtige en veelsydige BMW-motorfietse waarmee die jaers mekaar gaan aanpak.
Die SA span met hul aankoms in Mongolië saam met hul mediabeampte, Stefan Boshoff, heel links. Die spanlede is van links: Mark Dickinson, Eugene Fourie en Chris Meyer.
So is die spanne op tradisionele wyse in Mongolië verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'