Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wanneer mense deesdae stadiger as gewoonlik ry by Eenheidspark aan die noordelike kant van Yorkstraat, kan jy hulle nie blameer nie.
Die nuwe mosaïekpatrone en -letters trek baie aandag. Dit is aangebring deur die 'We are George' organisasie en Shelley Lötter van Shelleys Art Glass. Dis deel van planne om die sentrale stadskern te verfraai en van agteruitgang te red.
Eenheidspark is bedags, veral tussen 13:00 en 14:00 'n gewilde ontspanplek. Die park is digby die museum en oorkant die landdroskantore. Dit is ook baie naby aan eet- en kuierplekke. Daar het al misdaad in die gebied voorgekom en 'n paar jaar gelede is die prominente kopperletters wat die naam van die park aangedui het, gesteel. Die naam is daarna geverf.
Mikaila Hendrikz van 'We are George', sê Oakhurst Insurance het kantore in die gebied. Baie mense sê iets moet gedoen word aan die situasie in die gebied. Baie sakeondernemings kla, maar daar is nie baie wat iets doen nie. Sy en ander het toe besluit om die organisasie te stig. Van die lede sluit in Oakhurst Insurance en die George-sakekamer.
Die doel van die organisasie is om 'n veilige, skoon en omgee stadskern te vestig. Die eerste projek wat hulle aangepak het, is die verfraaiing van die stadskern.
Dit is 'n gesamentlike projek tussen die organisasie en die George-munisipaliteit. Sy benadruk dat sonder die hulp van die munisipaliteit dit nie moontlik sou gewees het nie.
"Ons mikpunt is om dit die kern van die middestad te maak."
Hulle wil die stadskern ophef en dié is die eerste van verskeie opwindende projekte.
Planne is ook in die pyplyn om 'n mark by tye by die park aan te bied. Daar is reeds begin om 24-uur sekuriteit in die gebied te verskaf.
Die nuwe mosaïek-patrone en letters by Eenheidspark in Yorkstraat, George.
Foto: Eugene Gunning
Kyk 'n video hieronder.
Die plan is om ook die stadskern uit te brei. "Sakeondernemings moet gewerf word om hulle in die stadskern te vestig.
"Baie sakeondernemings hervestig hulle na ander groot winkelsentrums. Ons moedig sakeondernemings aan om in die sentrale stadskern te belê."
Lötter sê dit was nie moeilik om die mosaïek aan te bring nie. By tye was die son wel warm.
Dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, sê die sakekamer steun die projek.
Een van die fokusareas van die sakekamer is om 'n skoon en veilige stad te hê. "Dis 'n voorvereiste om beleggings na 'n stad te lok. Namate die stad groei, sal die werksgeleenthede ook groei."
Daar word gepoog om 'n verbruikersvriendelike omgewing te vestig. Dit gaan wel nie net oor veiligheid in die omgewing nie. Dit gaan ook daaroor om inligting aan besoekers en voornemende beleggers te verskaf.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê ontwikkeling en veral die ontwikkeling van die klein sakeondernemings is belangrik in die middestad.
Die middestad is die platform waar die informele sektor op 'n formele en inklusiewe wyse sake kan doen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'