GEORGE NUUS - Die George-nagskuiling se assistent-bestuurder, Chris Classen, sê hulle gaan ook toemaak vir die 21 dae algehele inperking wat vannag begin. Hy sê hulle het reeds twee weke gelede begin met voorbereidings.
"Ons het ons mansafdeling groter gemaak waar nuwe matrasse en dubbelbanke reeds aangebring is, daar is 'n nuwe handewasbak by die ingang met seep en handreinigers is ook aangeskaf."
Classen sê hulle gaan vandag, Donderdag 26 Maart, soos vooraf bereken sowat 105 haweloses inkry, wat almal gereelde inwoners is. Volgens hom sal dit 'n risiko wees om nuwe mense in te neem.
Classen sê met die aankope wat gedoen is behoort hulle vir die volle drie weke almal te kan akkommodeer. Hy sê indien hulle enigiets nodig gaan kry, sal daar die nodige reëlings met die departement sosiale ontwikkeling gemaak word.
"Hier is 'n klein biblioteek as die mense verveeld raak en 'n tuin met bankies as hulle bietjie buite wil sit."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'