Gallery Update
GEORGE NUUS - In 'n tyd toe dit ongewoon was vir 'n vrou om gemeenskapsake kaalvuis aan te pak het wyle raadsdame Mercia Draghoender (64), 'n boorling van Rosemoor, haar onmiskenbare plek in dorpspolitiek gevestig.
Sedert die hartseer tyding van haar dood op Saterdag 11 Junie het boodskappe van bemoediging ingestroom. Volgens haar dogter, Angelique Felix, is sy dood weens hartversaking.
"Mercy", soos Mercia Draghoender onder baie bekend was, het die laaste jaar haar dorp as 'n PBI-raadslid van die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) gedien.
Dit is egter die laaste hoofstuk in haar lang politieke verhaal wat reeds in die middel 90's met die George Gemeenskap Inisiatief (GGI) begin het.
Haar loopbaan het in 2000 afgeskop as lid van dié organisasie met skakelwerk in die George-raad. Sy het 'n aantal jare later by Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) aangesluit (2007/8) en met die samesmelting van die OD en die DA, kernposisies in die George-raad beklee.
Mercia het in haar tyd as DA-raadslid verskeie ampte beklee, waaronder burgemeester, onderburgemeester, speaker, wyksraadslid vir wyk 20 (twee termyne), burgemeesterskomiteelid en stigterslid van die DA se vrouenetwerk in George saam met raadslid Biddey Heyns.
Mercia was vir bykans vier termyne 'n George-raadslid, en sal onthou word as die eerste vroueburgemeester van George (2010). Sy het later jare (2016) 'n lid van die Good-party geword, waarna sy op 25 November 2021 as 'n PBI-raadslid by die GRDM ingehuldig is.
Staaltjies
Dit was 2010, die jaar van die Sokker-wêreldbeker, en Mercia is as George-burgemeester saam na George-lughawe om die Japanse ampsdraers en sokkerspelers te ontmoet. Sy was 'n vrou van oorgawe, en net so het sy haar van haar taak gekwyt om almal baie welkom te laat voel.
"Ons het letterlik na ons asems gesnak," vertel Ilse Schoonraad (Group Editors: Groepsredakteur) wat destyds as joernalis die geleentheid bygewoon het.
"Ons het op die aanloopbaan gewag vir die vliegtuig met die Japanse gaste om te land. Mercia het sonder om te skroom die Japanese teen haar bors vasgedruk en 'n klapsoen gegee. Handskud en hoflik buig het net nie vir haar sin gemaak nie."
Oudraadslid Belrina Cornelius sal altyd aan haar vriendin dink wanneer sy 'n pakkie Liquorice All Sorts eet: "Ek het net van die rondes gehou en Mercy het al die ander wat oorbly in die pakkie geëet. Ons het dit altyd gedeel. Verder was Mercia baie lief vir kos en kosmaak. Sy het al die jare 'n sopkombuis in Borcherds bedryf en self saam met ander vroue die kos gemaak. Van al die lekker kosse wat jy kan kry, het Mercy die meeste van seekosse en 'n vaalpotjie gehou - rys, aartappels en sout en peper."
Verlede
Die plaaslike politikus en raadslid, Bazil Petrus, is 'n jare lange vriend van Mercia. "Al het ons soms vir verskillende partye gewerk, kon ons altyd saamwerk aan dinge van belang," het hy gesê.
"Ons het in een buurt, Rosemoor, grootgeword. Sy is heelwat ouer as ek. Sy het op 'n stadium in die Kaap gewerk, maar toe was ek nog op skool. In die middel 90's het die gemeenskapsverenigings die veldtogte aangepak en gevoer. In daardie tyd het die verskillende politieke partye maar pas begin.
"Mercia was 'n lid van die GGI, Wilbur Harris was 'n senior bestuurder en ek was voorsitter. Tydens daardie veldtogte het dit gegaan oor kaart en transport vir staatshuise. Die deure is gesluit as jy nie huur kon betaal nie, kinders moes buite staan as hulle van die skool kom en hulle ouers nie die huur kon betaal nie.
"Optogte en veldtogte is gehou en sy het hier betrokke geraak.
"Sy het van die begin af haar plek op 'n gelykwaardige wyse volgestaan, in enige organisasie of party waar sy was. Sy is nooit deur enige persoon binne daardie betrokke organisasie geïntimideer nie.
"Sy was trots en dinamies met baie ambisie en 'n houding van selfwaarde wat haar altyd goed laat geld het. Dit was 'n tyd toe dit 'n ongewone gesig was om te sien hoe 'n vrou opstaan vir dit wat sy in glo en nie omgee om haarself bloot te stel nie. Sy was 'n steunpilaar en stryder vir die behoeftiges in 'n tyd van aktivisme en gemeenskapsveldtogte.
"Sy het die taak aangevat toe baie min kans gesien het. Sy het onder moeilike omstandighede grootgeword en haar eie geleenthede geskep."
Mercia het onder meer by die Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes gewerk waar sy 'n bestuurder was. Hierdie dui op haar sterk behoefte om by maatskaplike kwessies betrokke te raak, het Petrus gesê.
Enig in haar soort
Oudraadslid en eertydse George-burgemeester, Flip de Swardt, het gesê hy het Mercia in Desember 2000 ontmoet toe hulle saam aan die eerste demokratiese munisipale verkiesing in Suid-Afrika deelgeneem het.
"Sy het as lid van die George Gemeenskap Inisiatief (GGI) 'n koalisie na die verkiesing met die DA gevorm. Bazil Petrus was die GGI se leier.
"Mercia was 'n merkwaardige en kleurvolle vrou. Enig in haar soort. Sy was intelligent en het 'n baie goeie geheue gehad. Sy het draaie om die meeste raadslede geloop. Sy het die munisipaliteit en al sy geheime baie goed geken.
"Sy het altyd na haar mense as 'onse mense' verwys en het hul belange altyd op die hart gedra. Geen opoffering was vir haar in hierdie opsig te groot nie. In die proses het sy op baie mense se tone getrap. She called a spade a spade.
"Alhoewel sy deel van die mosie van wantroue was wat my as burgemeester onttroon het, het ons deur die jare vriende gebly. Ons het nog verlede week telefonies gesels. Om polities te verskil, beteken nie jy moet vyande wees nie. Ek het net mooi herinneringe van haar en sal haar mis. Ook ons stryery.
"Om met haar agtergrond en opleiding tot speaker en burgemeester te vorder wil gedoen wees. Dit spreek boekdele van haar deursettingsvermoë en wilskrag. George sal haar mis. Ek hoop die raad vernoem iets na haar om haar te huldig en te onthou. Hier staan baie monumente van haar arbeid in George."
Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, Mercia Draghoender as George-speaker tydens 'n teepouse by 'n wykskomiteeberaad in Oktober 2014. Foto: Michelle Pienaar
Medelye
Die leier van die PBI in George, Virgill Gericke, het sy medelye uitgespreek en gesê die PBI is geskok oor haar skielike sterfte. "Ons diepste en opregte meegevoel gaan uit na haar kinders, familie, vriende en kollegas. Sy was 'n inspirasie vir baie van ons en 'n voorloper in die stryd vir 'n beter lewe vir haar mense.
"Haar politieke loopbaan was hoofsaaklike gewy om die arm, kwesbare en gemarginaliseerde dele van ons gemeenskap te dien. Sy laat 'n kragtige erfenis van toegewyde diens en uitnemendheid in die plaaslike regering agter en sal onthou word as 'n aktivis en vegter vir die regte van vroue en kinders," het Gericke gesê.
Die burgemeester van George, Leon van Wyk, onthou Draghoender as 'n vurige raadslid wat baie omgegee het vir die gemeenskap en voortdurend probeer het om die gemeenskap se lewens te verbeter.
"Haar heengaan kom as 'n groot skok en namens die George-raad wil ek my innige meegevoel aan haar familie en vriende betuig," het Van Wyk gesê.
DA se voorsitter van die Oosstreek, Venolea Fortuin, het Sondagoggend in 'n persverklaring gesê 'n mens kan nie haar massiewe bydrae tot die George-gemeenskap onder die DA-vaandel ontken nie.
Good-raadslid Donovan Saptoe het gesê haar dood is 'n groot skok. "Mercy sal vir altyd deur die gemeenskappe en politici in George gemis word. Sy was enig in haar soort en het voluit geleef. By die Good-party sal sy altyd onthou en gerespekteer word. Ons meegevoel en ons harte gaan uit na die families van Mercy gedurende hierdie tyd van rou."
Provinsiale leier van Icosa in die Wes-Kaap, Dawid Kamfer, het gesê Mercia was 'n ikoon in haar eie reg: "Sy het vir niemand en vir niks teruggestaan nie, sy was 'n gemeenskap werker wat elke gemeenskap sou begeer het, 'n vrou met 'n hart vir mense. Sy het die gemeenskap altyd eerste gestel."
GRDM-burgemeester Memory Booysen onthou haar as soveel meer as net 'n politikus. "Met sy wat nie meer hier is nie, sal ons lag in die GRDM-raad gedemp wees."
Kollegas wat daagliks saam met haar gewerk het, sê dat sy 'n briljante geheue gehad het, en het dikwels spesifieke datums en bladsye opgesê waar spesifiek melding gemaak is van raadsitems.
Speaker Georlene Wolmarans het Mercia beskryf as 'n dinamiese vrou, en 'n toege-wyde dienaar van die gemeenskap wat deur die mense gelief en gerespekteer is. "Ek het raadsdame Draghoender sedert ons tyd as lede van die voormalige Onafhanklike Demokrate leer ken. Ons het in November 2021 weer baie meer betrokke geraak as Raadslede van GRDM en sedertdien het sy elke geleentheid gebruik om haar stem te laat hoor.
"Ek sal mis hoe sy my as 'Agbare Speaker' aangespreek het, maar die belangrikste is dat ek haar as raadslid van GRDM sal mis".
Mercia as Speaker van die George-raad, saam met voormalige munisipale bestuurder, Trevor Botha, in Oktober 2015. Foto: Michelle Pienaar
Gedenkdiens
Mercia Draghoender word oorleef deur haar dogter Angelique Felix, haar seun Benmer Madumane en haar kleinseuns Anwin en Aylon Felix (tweeling, 11) en Aaron Madumane (17). 'n Gedenkdiens sal op Saterdag 18 Junie om 10:00 by Eagles Nest Ministries in Pacaltsdorp plaasvind.
• Interessante feit: Mercia kon eers op die ouderdom van 27 'n identiteitsdokument bekom, aangesien daar probleme was om haar ma se naam by die departement van binnelandse sake op te spoor. Blykbaar is Mercia se ma, Mary Michaels, se naam geregistreer as Merry Mikels, sonder Mercia se wete.
"Ons het al te lekker gelag hieroor," het Belrina Cornelius gesê. "Mercia se motor het die naam 'Mercy' as deel van die registrasienommer, want dit is amper soos haar ma se naam gespel."
By haar swaer se 50ste verjaarsdag: van links is Benmer Madumane (seun), Anwin Felix (kleinseun), Mercia, Aylon Felix en Aaron Madumane (kleinseuns).
Vorige artikel: George in skok en rou na ystervrou se skielike dood
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'