GEORGE NUUS - Boodskappe van bemoediging stroom sedert gisteraand, Saterdag 11Junie, in ná die hartseer tyding van raadslid Mercia Draghoender (63) se dood bekend geword het.
Draghoender was 'n PBI-raadslid by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit. Die presiese oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie.
Sy was in die verlede onder meer burgemeester, onderburgemeester, speaker en 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad, onder die vaandel van 'n verskeidenheid politeke partye. In 2021 het sy by die PBI aangelsuit.
Die leier van die PBI in George, Virgill Gericke, het sy medelye uitegspreek en gesê die PBI is geskok oor haar skielike sterfte.
“Ons diepste en opregte meegevoel gaan uit na haar kinders, familie, vriende en kollegas. Sy was ‘n inspirasie vir baie van ons en ‘n voorlooper in die stryd vir ‘n beter lewe vir haar mense. Haar politieke loopbaan was hoofsaaklike gewy om die arm, kwesbare en gemarginaliseerde dele van ons gemeenskap te dien. Sy laat ‘n kragtige erfenis van toegewyde diens en uitnemendheid in die plaaslike regering agter en sal onthou word as ‘n aktivis en vegter vir die regte van vroue en kinders,” het Gericke gesê.
Die presiese oorsaak van haar dood kon nog nie bevestig word nie.
Die burgemeester van George, Leon van Wyk, onthou Draghoender as ‘n vurige raadslid wat baie omgegee het vir die gemeenskap en voordurend probeer het om die gemeenskap se lewens te verbeter. “Haar heengaan kom as ‘n groot skok en namens die George-raad wil ek my innige meegevoel aan haar familie en vriende betuig,” het Van Wyk gesê.
“‘n Mens kan nie haar massiewe bydrae tot die George-gemeenskap onder die DA-vaandel ontken nie,” het die DA se voorsitter van die Oosstreek, Venolea Fortuin, Sondagoggend in ‘n persverklaring gesê.
Draghoender het die DA vir twee termyne as ‘n wyksraadslid van Wyk 20 gedien en was ook die speaker gedurende dié tydperk. Sy was ook ‘n stigterslid van die DA se vrouenetwerk in George saam met raadslid Biddey Heyns.
Gedurende haar lang politieke loopbaan het sy die eerste vrou geword wat die uitvoerende burgemeester in die George-munisipaliteit geword het.
Tot voor haar aansluiting by die PBI, was sy 'n lid van Good. "Ons is natuurlik baie geskok. Ons weet sy was bietjie siekerig die laaste tyd maar sy was altyd plesierig wanneer ons ontmoet het en gesels het. Merci, soos ons haar genoem het, se dood, is 'n baie groot verlies vir George. Sy was welbekend. Ons wens die familie alle sterkte toe in die tyd. In Good George sal sy gemis word," het Good-raadslid, Donovan Saptoe, Saterdagaand gesê.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het aangedui dat hulle binnekort ‘n persverklaring sal uitryk.
- Die George Herald is jammer om te hoor van Mercia se skielike heengaan. Alle sterkte aan haar familie. Lizette da Silva, George Herald-redakteur
“‘n Mens kan nie haar massiewe bydrae tot die George-gemeenskap onder die DA-vaandel ontken nie,” het die DA se voorsitter van die Oosstreek, Venolea Fortuin, Sondagoggend in ‘n persverklaring gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'