GEORGE NUUS - Aanvanklike aanduidings is dat George en omliggende gebiede 'n goeie vakansieseisoen beleef het. Finale syfers sal eers later bekend wees want die kusskole het die week nog vakansie en die afgelope paar dae was daar nog heelwat besoekers in die gebied.
Dit is duidelik dat 2021/2022 'n baie beter seisoen was as 2020/2021.
Verskeie faktore het 'n rol gespeel. Mense kan strande besoek en inperkingsregulasies is nie so streng soos laasjaar nie. Voorts is drankverkope toegelaat en die aandklokreël is verslap. Plekke soos die Garden Route Mall en die George-lughawe was besig.
Groot moeite is gedoen om seker te maak dat verkeer vloei en by verskeie besige plekke het munisipale beamptes diens gedoen. Wetstoepassers het ook 'n groot sigbaarheid gehandhaaf.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi en ondervoorsitter van die George-sakekamer, het Dinsdag gesê eerste aanduidings is dat ondernemings beter verkoopsyfers gehad het. In sommige gevalle is dit tot 100% meer terwyl ander 'n styging van 15% en hoër rapporteer.
Hy sê die sluiting van strande op die laaste oomblik in Desember 2020 het 'n dramatiese impak gehad op besoekergetalle. 'n Beter perspektief sal verky word as 2021 met 2019 vergelyk word. Cilliers het gesê daar was die afgelope tyd beslis meer mense in die gebied. Die toerismesektor is baie dankbaar.
Hoër inkomste vir veral klein ondernemings bring hoop vir die jaar.
Gratz en span geloof
George-burgemeester Leon van Wyk het gesê krediet moet aan dr. Michelle Gratz, die waarnemende munisipale bestuurder en haar span gegee word.
Hul benadering was dat die beste voet voorgesit moet word vir besoekers. Daar was daagliks vergaderings.
"Een van die indrukke wat ek gekry het is dat mense vir langer as gewoonlik gebly het. Dit was oral 'n goeie seisoen."
Hy het bygevoeg nabetragting is nog in 'n vroeë stadium en finale syfers sal eers later bekend wees. Alle aanduidings in die stadium is egter dat die kleinhandel 'n groot toename in omset gehad het.
"Die terugvoer wat ek kry is dat restaurante en die gasvryheidsbedryf 'n goeie tyd gehad het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'